LatestNewsSchoolsUncategorized

Tyd in hospitale lei top-matrikulant na medies

Ure in hospitale en hospitaalgange het haar aangespoor om medies te studeer.
Só vertel Amanda Carstens van Porterville wat in die 2025 Matriekeksamen met ‘n gemiddelde van 95,1% die hoogste punte in die Weskus Onderwysdistrik behaal het.
Amanda is ook die top-matrikulant in Kring 2 en het vandag by die Wes-Kaapse onderwysdepartement se jaarlikse toekenningsgeleentheid die toekenning ontvang vir die provinsie se top-matrikulant in Geografie.

Sy het 100% vir Geografie gekry, 99% vir Lewenswetenskappe en 97% vir Fisiese Wetenskappe en is ook by die provinsiale toekennings vereer as een van die Wes-Kaap se Top-40 matrikulante van 2025.
dié courant het met haar gesels.
Amanda, wat ook in 2025 die hoofmeisie van Hoërskool Porterville was, vertel sy het ‘n jonger suster, Louisa, wat van kleins af gereeld mediese behandeling – soms in noodsituasies – in hospitale moes ontvang. “Ons het amper grootgeword in hospitaalgange” en dit het vroeg-vroeg al haar belangstelling in dié veld geprikkel. Sy het intussen ook praktiese kursusse bygewoon om seker te maak van haar keuse.
Vandeesweek het sy op die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus begin. Sy is in ‘n koshuis, maar vertel sy is eintlik koshuis gewoond. Haar ouers boer op die plaas Pampoenkraal tussen Porterville en Piketberg en met haar vol program het sy ‘n kamer in die koshuis gebruik eerder as om heen en weer te ry.
“Akademie was my hoofprioriteit. As ek drie ure wou leer op ‘n dag, dan het ek.”

Haar raad aan die matrieks van 2026 is om “elke dag nie net jou huiswerk nie, maar meer te doen – op te som en te werk deur dit wat daardie dag behandel is. Dit bly dan in jou gedagtes. Dit is die maklikste manier.”
“My hoofding was vraestelle.
“Ek het deur die jaar omtrent 30 vraestelle indien nie meer nie vir elke vak uitgewerk. Jy tel patrone op wat jaar na jaar herhaal oor hoe vrae gestel word in veral die teoretiese vakke en die standaard maniere hoe hulle wil hê jy iets moet antwoord om die maksimumpunte te kry.
“Werk deur die jaar die laaste vyf jaar se vraestelle uit. Nie net NSS (Nasionale Senior Sertifikaat)-vraestelle nie.”
Sy sê daar is baie goeie onderwysers by Hoërskool Porterville. Dit help ook verder dat dit ‘n klein skool is, voeg Amanda by. Daar is in sommige van die moeilike vakke soos Wiskunde en Fisiese Wetenskappe net 11 of 12 leerders in die klas en dit lei tot meer persoonlike aandag.

Tyd in hospitale lei top-matrikulant na medies
Amanda (naasregs) saam met haar ouers, Gawie en Nicolette, en haar suster, Louisa.

Gevra om slegs twee onderwysers uit te sonder, sê Amanda sy wil beslis haar Geografie-onderwyseres, Laetitia Human, uitsonder. “Sy is naby aan aftrede en dit was ‘n loopbaanhoogtepunt vir haar, soos sy self sê. Ek en sy het albei gehuil toe ons my Geografiepunte kry.
“Sy het net van die begin af iets raakgesien wat ekself dalk nie het nie. Sy het soveel ekstra moeite gedoen met ons. Sy het rêrig ‘n groot verskil gemaak.”

Amanda sê ook haar wiskundeonderwyseres, Marietjie Potgieter, wat in Maart verlede jaar oorlede is, het ‘n baie groot rol gespeel in haar akademiese sukses.
“Sy het in Gr. 10 en 11 vir my Wiskunde gegee en as dit nie vir haar was nie,dink ek sou ek nie eers ‘n A gekry het vir Wiskunde nie.
“Ek kon eers nie enigiets doen wat buite die boks was nie. Ek het net nie gedink dit is binne my vermoë nie. Sy het by my gesit en gehelp tot ek iets regkry.”
Tussen al die verpligtinge deur was Amanda ook tot in haar matriekjaar aktief betrokke by kultuuraktiwiteite. Sy het verlede jaar aan nie minder nie as sewe items by die Wes-Boland Eisteddfod deelgeneem – twee skryfstukke, twee gedigte, onvoorbereide lees en twee prosastukke. “Ek is mal oor prosatukke waar jy behoorlik kan perform.”

Amanda vertel haar ma, Nicolette, het destyds landbou studeer op Stellenbosch en in dié veld gewerk voor sy en haar pa, Gawie, getroud is. Hulle boer met onder meer graan en het ook ‘n bekende SA Vleismerino-stoet. Nicolette is deesdae gemoeid met die boekhouding van Carstens Boerdery.
“My ouers het my ook baie ondersteun. Veral my ma was maar altyd daar om te help en in te staan as ek nie self by alles kon uitkom nie.”
Dan is daar nog ‘n spesiale ondersteuner. Amanda sê sy het Stephan Meintjes sowat ‘n jaar gelede ontmoet. Hy studeer tans ingenieurswese op Stellenbosch en was in 2023 in matriek in Hoërskool Dirkie Uys op Moorreesburg.
“Ondersteunersnetwerke is regtig belangrik.”

Amanda saam met haar spesiale ondersteuner, Stephan Meintjes.

Leave a Reply

error: Content is protected !!