Malmesbury-kring se top-matrikulant geniet probleemoplossing
Baie van die suksesvolle matrikulante van 2025 het vandeesweek hul eerste treë vir naskoolse studies aan tersiêre instellings gegee.
Een van hulle is die top-matrikulant van 2025 in Kring 1 van die Weskus Onderwysdistrik, Swartlander Carien Walters.

Sy was ook die Hoërskool Swartland se top-kandidaat met ‘n gemiddelde van 92,29%.
dié courant het op die geskiedkundige plaas Klawervlei waar sy grootgeword het, met Carien gaan gesels.
Gedeeltes van die woonhuis dateer volgens erfenisrekords uit 1776. Die plaas was destyds as Vyffontein bekend en was eers, soos Babylon Toren in die Drakenstein-distrik, ‘n veepos van ene Pieter van der Byl van Stellenbosch voor sy seun Pieter hier kom boer het.
Carien se ouers, Bertie en Selma, het die plaas twee dekades gelede van Sakkie Smuts gekoop.

Ons sit en gesels in die ou huis in ‘n vertrek met ou foto’s van die Walters-voorouers teen die muur.
Carien het ingeskryf om vanjaar megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.
“Carien, hoe gebeur dit dat ‘n mens so baie punte kry?”
“Ek weet nie, oom.
“Ek het maar net hard gewerk deur die jaar – konstant.
“Maar ook net seker gemaak om tussen-in te rus en tyd met vriende en familie te spandeer. Die balans te hou.
“Toe gebeur dit maar net.”

Sy sê sy het baie gehou van al die vakke, maar haar gunstelingvakke was Wiskunde en Ingenieursgrafika en ontwerp (IGO). Haar hoogste punte was 98% vir Engels Eerste Addisionele Taal.
“Ek hou van probleemoplossing en uitdagings.
“Wanneer jy met ‘n probleem sit en dit dan regkry is dit baie lekker.”
Gevra om een onderwyser uit te sonder wat ‘n groot rol in haar suksesse gespeel het, sonder Carien haar IGO-onderwyser Johann Spies uit. “Veral die manier hoe hy ons altyd gemotiveer het in die klas. Hy het ‘n groot rol gespeel.”
Wat is megatroniese ingenieurswese?
“Ek sal dit beskryf as ‘n kombinasie van meganiese en elektroniese ingenieurswese. Dit is ‘n baie wye veld met Robotika. Jy kan baie met dit doen.”

Sy sê “al word seuns meer aangemoedig in daardie rigting, sien ek baie top-presterende meisies wat kies om ingenieurswese te doen – wat ook dieselfde voel en ‘n passie het vir Wiskunde.
“Ek is ‘n redelike praktiese mens en het nie geluister na ander se menings wat ek behoort te studeer nie. Ek het self besluit.
“Toe ek op skool wou IGO neem, het baie gesê hulle sien my nie in IGO nie. maar toe is dit my gunstelingvak. Toe raak ek rêrig passievol daaroor.
“Ek is ook ‘n kreatiewe persoon en ek dink dit het my ook baie gehelp met probleemoplossing.
Carien het aanvanklik hokkie gespeel, maar toe later meer perd gery en in die skool se bekroonde koor gesing. Sy het ook baie op die plaas gestap omdat sy hou van die natuur.
Sy sê sy het baie Wiskundevraestelle uitgewerk. “Dit was lekker om Wiskunde te leer.”
Ma Selma vertel sy het ook ‘n Wiskundebrein en het dit baie geniet op skool.
