Parstyd – vroeg vir sommige; op tyd vir ander
Hakiesdraad, Boet, Skerpioen, Konsertina, Daai Perd.
Varkhok, T’Voetpad, Swerwer, Rooi-Groen, Ringmuur.
Raaigras, Klipkop, Plat’bos, Ramnasgras, Sk’windjiesvlei.
Pofadder, Skurfberg, Kokerboom, Soldaat.
Treinspoor, Swartwater, Kolbroek en Skaliekop.
Almal name wat jy in die Paardeberg sal raakloop.
Heelparty in bordkryt op wynvate geskryf.

Dit is parstyd in die Swartland.
dié courant het gister ‘n bietjie in die Paardeberg gaan loer hoe dit vroeg in parstyd gaan.
Vir sommige produsente het die pars tot 12 dae vroeër aangebreek as verlede jaar en ander begin eers vandag of volgende week hul druiwe sny.
Dit is onder meer die balling (die suikerkonsentrasie/graad) van die druiwe wat bepaal wanneer dit gesny moet word.
Die suiker speel ‘n belangrike rol in die wynmaakproses en bepaal onder andere ook uiteindelik die alkoholinhoud.
Die gisting/fermentasieproses stop wanneer die suiker “opgevreet” is. As die balling (°B, vernoem na Karl Balling wat dié digtheidskaal ontwikkel het) te hoog is, is die alkoholgehalte van die wyn gevolglik onwenslik hoog.

Druiwe wat gebruik word vir MCC (Méthode Cap Classique)-vonkelwyn word dikwels teen ‘n laer suikerinhoud gesny, maar die meeste wyne word gemaak van druiwe wat van 21,5 balling af en op gesny word.
Produsente meet die suikerinhoud van ‘n paar trosse uit ‘n blok. Hulle gebruik ‘n balling-meter of ‘n refraktometer (Brix-skaal). Laasgenoemde meet die ligverbuiging deur die sap, wat wissel na gelang van die digtheid. Op dié manier word die suikerinhoud ook bepaal.
Die alkoholinhoud van talle 2025-wyne was ‘n bietjie hoog.
Warm weer laat die druiwe vinniger ryp word met die suikerinhoud wat vinniger klim. Daar is al op party plekke ‘n bietjie sonskade op van die druiwe.
By Lammershoek vertel Armand Hartzer van hulle variëteite soos pinotage en viognier is reeds in die kelder.
Al wat hulle nog moet sny is hul chenin blanc en hárslevelü.
Hulle het vanjaar reeds die 9de Januarie begin pluk in vergelyking met verlede jaar (‘n laat parsjaar) toe hulle eers die 21ste begin het en in 2024 op die 12 Januarie.

Eben Sadie van Sadie Familiewyne sê hulle het ‘n paar blokke “verskriklik vroeg gepluk” en toe het alles soortvan gaan staan. “Die oes is eintlik op tyd. Ons het gedog dit gaan baie vroeg wees.”
Op ‘n buurplaas van Oubaas Lesch is hulle kliphard aan die oes.
Baie van die werkers is in die afseisoen werkloos.
Teen 09:30 het hulle al 15 ton chenin blanc vir die oggend gesny.
Niel Fourie vertel sy span moet nog 15 ton sny vir die dag.
Van die voorste snyers sny tot 80 mandjies per dag.
Die druiwe is bestem vir Heineken.
Op Kalmoesfontein (AA Badenhorst Familiewyne) is hulle ook besig om chenin blanc te sny.
Die trekkers staan in rye by die kelder sodat die kratte afgelaai en die druiwe gepars kan word.
By die Bassons van Babylon’s Peak sou hulle vandag (Donderdag) hul eerste druiwe vir die seisoen begin sny.
