Die tydrenwiele rol weer
Dis tydrentyd in die Swartland. Hierdie keer is dit Porterville se beurt om die motorsportgeesdriftiges te ontvang wanneer die tydrenjaers mekaar môre in die eerste ronde van vanjaar se Wes-Kaap Tydrenkampioenskap die stryd aansê.

Die deelnemers het die “rustyd” gebruik om hulle voertuie gereed te kry en toeskouers kan uitsien na volop aksie wanneer die 19 spanne môre vir die podiumplekke gaan jaag.
Onder die Swartlanders en Weskussers wat die grondpaaie om Porterville gaan aandurf, tel
broer en suster Juneyed en Reyanah Edas in klas WC4 in hul 1,6l Toyota Tazz (nommer 466), Inus Du Plessis en Piet Carinus in klas WC2 in hul 3,3l BMW E36 330i (nommer 461) en die pa en dogter Werner Koekemoer en Leané in klas WC2 in hul 3,2l BMW E36 (nommer 474).

Die tydren se dienspark is by die Porterville skougronde en die prysuitdeling sal ook daar plaasvind.
Jaers sal oor drie bene en ses skofte (twee elk by Goedgenoeg – 8,43km, Nuhoop – 15,93 km en Bovlei 18,79km) meeding. Die totale afstand is 86,3km.

Volgens die dag se program begin die eerste skof om 09:30.
Die amptelike toeskouerpunte vir skofte 1 en 2 is by 33°04’28.4″S 18°54’54.0″E en vir skofte 3 en 5 by 32°55’41.5″S 18°54’43.4″E
*Die volgende twee rondes van die kampioenskap op 24 en 25 April onderskeidelik is die Malmesbury- en Riebeek-tydrenne.
