Musieklegende ‘n 100 jaar gelede gebore
Een van die Swartland se bekendste legendes is vandag ‘n 100 gelede op die plaas Diepkloof buite Malmesbury gebore.
Hy het as jong seun op Stellenbosch gaan skool bywoon en hom daar bekwaam vir die verhoog – plaaslik en elders in die wêreld.

Albertus Johannes (Albie) Louw is op 5 Februarie 2017, enkele dae voor sy 91ste verjaarsdag, in Durbanville oorlede.
Dié veelsydige pianis, komponis en bariton is in 2010 deur die ATKV vereer vir sy lewensbydrae.
Hy het op Stellenbosch en later aan die College of Music in Kaapstad klavier en sang studeer. Het het ook later ‘n ateljee daar gehad waar hy sang en klavier en trekklavier onderrig het.
Louw het in Kaapstad by die universiteit se operagroep aangesluit. Hy het rolle in operas soos Le Nozze de Figaro, Don Giovanni en Tosca vertolk en ook deur Skotland en Engeland getoer.
Hy het in 1961 in Kaapstad die titelrol vertolk in die première van John Joubert se Silas Marner en by verskeie geleenthede die verhoog gedeel met talle bekendes, waaronder Nellie du Toit, Marcel Wittrisch en Gé Korsten.
Hy het veral ook gehou van jazz-musiek.
Die meeste van sy tyd het hy egter aan sy groot belangstelling, ligte musiek, gewy. Dit is ook hieruit wat die Safari-sangers onstaan het met hul vertolkings van sy verwerkings en eie komposisies.

Baie sal Louw ook onthou as ‘n bekende gesig wat vir jare klavier gespeel het in die Tygervalleisentrum.
Hy was die tweedejongste van 6 kinders en het op 6-jarige ouderdom homself leer klavier speel waarna sy ouers hom as 9-jarige gestuur het vir verdere musieklesse.
Hy het later ook trekklavier gespeel in orkeste voor hy sy eie orkeste begin het.
Die ATKV het Louw in 2010 saam met die trekklavierkoning Nico Carstens, saam met wie hy ook opgetree het, vereer. Carstens sou ook vandag sy 100ste verjaarsdag vier.
Die boorling van die Swartland het destyds studeer onder die befaamde Philip McClachlan, deur baie beskou as die vader van koormusiek in Suid-Afrika.
Louw het ook onderwys studeer.
Hy het verskeie konserttoere vir die destydse streeksrade, Kruik, Naruk en Truk – onderneem en was ook mede-aanbieder van ‘n radioprogram op Springbok Radio.

Hy het ‘n groot aantal langspeelplate, waaronder die In Tune with South Africa-reeks, die lig laat sien. Die omslag van een het baie jare later onder die aandag van die Coca-Cola-museum in Atlanta gekom. Sien skakel van die video-insetsel wat toe vervaardig is.
Louw het ook verskeie van die limeriekskrywer Philip de Vos se verse getoonset.
Hy het van kleins af sy ouer broer Louwtjie (‘n bekende tenoor) en hul suster Matty begelei.
Louwtjie se dogter, Hanlee, is ook ‘n ervare koloratuursopraan wie se talent en passie haar van die Swartland na van die mees bekende operaverhoë in die wêreld geneem het.
*dié courant en ons vroeëre susterpublikasie de Mozáik het destyds in 2016 met Louw gesels.


