Emma Willemse se kunswerke in Kiks
Een van die hoogtepunte op die Kaapse kunskalender is die 13de Investec Cape Town Art Fair wat die komende naweek (20 tot 22 Februarie) in die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum plaasvind.
Dié internasionale geleentheid, grootste van sy soort op die Afrika-kontinent, bring ‘n diverse groep gevierde kunstenaars byeen.
Besoekers kan meer as 120 uitstallers (waaronder 40 vir die eerste keer deelneem) uit meer as 30 stede met werke van by die 500 kunstenaars besigtig.

Die tema van vanjaar se geleentheid is “Luister”.
Een van die Swartland en Riebeekvallei se toonaangewende kunstenaars, die bekroonde Emma Willemse, neem ook aan dié groot kunsgebeurtenis deel.
Willemse (66) is ‘n konseptuele kunstenaar, kunsdosent en kurator en van haar werke sal as deel van ‘n groepwerk sowel as apart te sien wees.
Haar werk vorm deel uit van die groepuitstalling deur die bekende Association for Visual Arts (AVA) in Kerkstraat, Kaapstad.
Die AVA-uitstalling in die Kiks (Standplaas SP4) bestaan vanjaar uit werke van die “The Printing Girls (TPG)” – ‘n kollektief van vroulike kunstenaars van regoor Suid-Afrika wat drukwerk gebruik.
Die kern van dié uitstalling is ‘n unieke samewerkingstuk met 50 oorspronklike afdrukke van TPG-kunstenaars regoor die land.
Die samewerkingstuk ondersoek, luidens ‘n persverklaring, “die verbeeldingryke en metafisiese assosiasies met water en skep ‘n resonante ruimte om ons verhouding met die natuurlike wêreld te heroorweeg.” Dit bekyk “die diverse konnotasies met waterverwante sake en ondersoek sommige van die paradokse daarvan, wat kykers aanspoor om dieper te delf in wat onder die oppervlak mag skuil.”

Die kollig val ook op die werke van individuele stemme van kunstenaars soos Emma Willemse.
Willemse is bekend vir haar konseptuele werke waaronder groot installasies tot kleiner meer intieme stukke, haar bekroonde kunstenaarsboeke van verskillende groottes, skilderkuns, fotografie en drukwerk met verskillende media.
Sy gebruik en hergebruik materiaal “as ‘n metafoor, nie net op ‘n fisiese driedimensionele manier nie, maar ook op ‘n beeldende manier in my tweedimensionele werk”.
Haar werk was al op tientalle uitstallings plaaslik en op plekke in die buiteland soos Parys, Dakar, Londen en Florence te sien.
Dit is ook ingesluit in versamelings soos dié van die SA Ambassade in Beijing, China, die Spier-versameling, Nando’s-versameling, Potchefstroom-museum en Die KunshuisRK op Riebeek-Kasteel.
Sy het in 2015 die tweede plek losgeslaan in die afdeling vir installasies op die Florence Biennale en is in 2022 vereer met ‘n Erepenning vir die Kunste deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Die organiseerders van die Investec Cape Town Art Fair verwag sowat 40 000 besoekers oor die naweek.
Toegangskaartjies is hier beskikbaar.
Sien ook vorige artikels: Willemse dokumenteer, roer met disrupt – Willemse lig uproot en tema van verplasingverlies toe

