Melkboere ontvang Koringboere ná Lillies-sege
‘n Derde agtereenvolgende derby-stryd wag die komende naweek op die Melkboere van Darling ná hulle die afgelope twee Saterdae met onderskeidelik Mamre en Abbotsdale afgereken het.
Die begeesterde Darlingspan onder afrigting van Earl Lewis het Saterdag hul wegwedstryd teen Abbotsdale met 28-22 gewen nadat hulle rustyd met 15-8 voor was.

Darling het uit die staanspoor honger gelyk al het hulle in die eerste helfte teen die wind gespeel.
Lillies het in die tweede helfte die telling gelyk gemaak op 15-15 voor die besoekers weer die voortou geneem het.
Die komende Saterdag speel die Melkboere gasheer vir Wesbank. Laasgenoemde kon Saterdag op hul tuisveld, soos Abbotsdale die vorige Saterdag op Moorreesburg, nie ‘n oortuigende vertoning teen Moorreesburg lewer nie. Die Koringboere wat met rustyd met 28-5 voorgeloop het, het wel met ‘n oorwinning van die veld gestap (28-22) maar moes in die twee helfte bontstaan om die aanslae van die besoekers af te weer. Wesbank kon in die tweede helfte geen punte byvoeg nie.
In die ander kragmetings (die derde reeks in die eerste ronde van Boland Rugby se Grootuitdaag) die afgelope naweek het beide spanne uit die Riebeekvallei in wegwedstryde vasgeval.
Good Hopes het hulle rieme teen Mamre styfgeloop (53-15) en Riebeek United het die knie gebuig teen Koringberg (39-17), wat hul eerste sege behaal het.
Good Hopes, Riebeek-United en Moorreesburg kon nog nie vanjaar oorwinnings aanteken nie.

Saron het Saterdag hul wedstryd teen die besoekers van Never Despair met 27-24 gewen en Porterville was met 22-21 net-net aan die wenkant teen die besoekende Villagers Wittewater.
Naas die derbystryd tussen Darling en Wesbank, lyk komende Saterdag se spelrooster vir die ander klubs (tuisspanne eerste) só:
Moorreesburg teen Riebeek United
Good Hopes teen Abbotsdale
Villagers Wittewater teen Saron
Never Despair teen Mamre
Porterville teen Koringberg
