CommunityFEATUREDNews

‘As Warrior House werk, is dit stukkie wat ons kan agterlaat’

Wat klein begin het as die Moorreesburg Warrior-projek vir vier jong “Warriors” het nou uitgebrei en gestalte gekry in ‘n inklusiewe nasorg- en ontwikkelingsentrum wat binne maande reeds uit sy nate bars.
Daar word deur die loop van elke werksdag reeds by die 150 kinders – met en sonder spesiale behoeftes – by dié eenstop-Warrior House-sentrum in Graanstraat gehuisves.

Van soggens vroeg kom daar al van die kleiner kinders vir alternatiewe onderrigmetodes. Later kom ook gewone tuisskoolkinders na die sentrum voor die laerskoolleerlinge ná skool kom vir nasorg – die grootste komponent. Hulle word met tuiswerk gehelp en na buitemuurse aktiwiteite geneem voor hul ouers hul ná werk kom oplaai.
By Hoërskool Dirkie Uys (HDU) het die Warrior-projek vier jaar gelede as ‘n klein fondsinsameling met pannekoekmengsel begin om ‘n verskil te maak vir die vier jong “Moorreesburg Warriors” – Pierre Basson, Logan Wells, Kyla Streicher en Frederick Barnard – elkeen met hul eie unieke behoeftes en uitdagings.
Kyla is ongelukkig intussen oorlede en Pierre is al ‘n bietjie ouer en is nou reeds meer as ‘n jaar in Badisa se Alta du Toit-sentrum in Kuilsrivier.
Isabel Crous wat destyds by HDU betrokke was met die loods van die projek, vertel hulle wou begin om ‘n verskil te maak – die ouers help met ondersteuning en bystand met uitgawes soos medikasie, doeke, hoë reiskoste en terapie.
Hulle het die pannekoekmengsel gekoop van ‘n ma van ‘n serebraal gestremde seun in Durbanville wat só geld ingesamel het sodat hy ‘n spesiale operasie in die VSA kon ondergaan.
Hulle het aanvanklik by markgeleenthede panekoek gebak en pannekoekmengsel verkoop.
Crous was daarna die stigter van die Warrior House Foundation Trust met Frederick se pa, Frikkie, Marnus Kotze en Susan Westraadt tans die ander trustees en die sangeres Chereé is tans die ambassadeur.
Gister was nasionale dag vir die bewusmaking van serebrale gestremdheid en Warrior House en instansies op Moorreesburg het mense aangemoedig om groen te dra. Ook by Laerskool Dirkie Uys en by Kammaland Speelskool op Malmesbury, waar Frederick elke week gaan kuier, het talle kinders groen klere aangehad.
Vandag is dit weer Persdag – internasionaal vir die bewusmaking van epilepsie.

‘As Warrior House werk, is dit stukkie wat ons kan agterlaat’
‘n Groep in Groen: Hier glimlag die groep wat by die sentrum was tydens dié courant se besoek.

dié courant het gister by Warrior House gaan inloer en Frederick se ouers, Frikkie en Zanelle, raakgeloop.
Pa Frikkie sê dié huis was half ‘n murasie met ‘n stoor.
Hulle het omtrent binne 20 dae die nodige fondse bekom en die sentrum staangemaak. Nou bars dit enkele maande later met die verskillende afdelings uit sy nate en moet daar reeds gekyk word na uitbreiding.
Die sentrum huisves ook ‘n Tina Cowley-leessentrum. Daar is gesprekke met verskillende terapeute om op ‘n gereelde basis hul dienste hierheen te bring vir sessies met ander kinders wat ook die behoefte het, eerder as elke ouer wat ver moet reis vir die fisio-, spraak- en arbeidsterapie.
“Die droom is dat hier iets is van alles. Ouers moet hul kinders hier kan aflaai en die sentrum moet in alle behoeftes kan voorsien. Ook om vir ouers verder noord die geleentheid te gee dat hulle nie hoef Kaap toe te ry nie.
“Die volgende droom is om agter op die perseel ‘n gebou te bou waar die kinders met spesiale behoeftes dan gehuisves kan word.”
“Ons weet daar is ouers wie se kinders hulp nodig het en hulle moet ry vir terapie, maar hulle kan dit nie bekostig nie en dan kry die kinders nie die hulp nie,” sê Zanelle.
“Hoekom ons ook die visie gehad het om dié plek staan te maak, is om die gesinsdinamika vir gesinne wat ‘n spesiale kindjie het. te herstel,” voeg Frikkie by.

“Daar is een van twee goed wat gebeur. Die vrou moet ‘n 24/7-verpleegster/ma/alles wees en bedank haar werk. Dit kos ekstra geld en daar is ‘n inkomste wat nie inkom nie. Dan moet die man soveel harder werk om genoeg te verdien.”
Daarom die visie van ‘n plek waar die ouer met gerustheid hul kind kan laat in ‘n inklusiewe omgewing tussen al die ander kinders – goed vir beide die spesiale kind en die ander kinders – waar al die nodige sorg en terapie ook verskaf word.
Frikkie en Zanelle was onderwysers in Rustenburg voor hulle hulle 17 jaar gelede in die Swartland kom vestig het.
Hulle vertel dat Frederick in 2020 in die Covid 19-tyd met ‘n seldsame hartdefek gebore en op drie maande gediagnoseer is met hartversaking soos ‘n persoon van 80.
Dié seldsame defek word meesal eers met nadoodse ondersoek ontdek.
Frederick s’n is opgetel. Hy moes ‘n ope-hartoperasie ondergaan, maar toe “het sy liggaam al klaar afgesit.
“Hulle het ons reeds ingeroep en gesê ons moet groet. Hulle kan niks doen nie.
“Hy was in nierversaking, hartversaking en lewerversaking en op ‘n ventilator.

Die Barnard-gesin – pa Frikkie en Cleoné (agter) en ma Zanelle, Frederick en Beáte (voor)

“Maar toe val alles net in plek. Daar is plek in Rooikruis, die dokters is gereed en die ambulans kom en die wonderwerke kom een vir een deur. En daardie Donderdagaand is hy geopereer.”
Die aand voor die groot operasie het hy egter ‘n hartstilstand gehad en medici het 20 minute gesukkel om hom weer terug te bring. Die vermoede is dat Frederick moontlik toe weens suurstoftekort die skade opgedoen het wat hom serebraal gestremd gelaat het.
“Hulle het vir ons as ouers gesê hy het ‘n 1% kans om daar uit te kom, weens die toestand waarin hy daar aangekom het.
“Ons moes die brief teken dat ons aanvaar dat hy moontlik nie daar sal uitkom nie.
“Nou is hy hier met ons en ons kan elke dag dankbaar wees vir dit dat hy net lewe.
“Die res is klein katjies. Dit is uitdagings, maar dit is wat ons dryf elke dag.
“Kognitief is hy 100%. Die liggaam doen net nie wat die brein wil hê nie.”
Frikkie verduidelik die verskillende grade/tipes serebraal gestremdheid word veroorsaak deur die konneksie tussen die spiere en die brein wat as gevolg van suurstoftekort of ander oorsake in verskillende mate seergekry het of as gevolg van genetiese faktore nie 100% funksioneer nie.
“Gelukkig,” sê hy “raak serebrale gestremdheid nie erger as wat dit tans is nie.” As die kind gereeld epileptiese episodes het, kan dit wel ander skade en agteruitgang tot gevolg het.
Toe Frederick uit die hospitaal uitkom, het hy ‘n baie erge epilepsie gekry as gevolg van die trauma. “Dit het hom ook ‘n bietjie teruggesit, maar hy is ten volle genees van epilepsie. Ons is dankbaar vir dit.
“Hy is ‘n plesier. Hy is ‘n happy chappie. Hy het rêrig nie te veel issues nie. Hy slaap goed. Hy eet goed. Die neuroloog het in 2021 vir ons gesê hy sal nie self kan asemhaal nie en net teen die dak lê en kyk. Toe sê ek en my vrou vir haar, maar dan is jy gefire. Ons glo nie dit nie.
“Hy operate. Hy reageer. Hy beweeg al vier sy ledemate. Ons het wonderlike terapeute en ons probeer rêrig als doen wat ons kan en ons is bevoorreg om dit te kan doen.

“As gevolg van Frederick is die dorp die laaste vyf jaar baie meer blootgestel aan serebrale gestremdhed, want ons vat hom orals. Ons steek hom nie weg nie. Die dorp is baie bewus.”
Crous sê: “Die eerste vier Warriors sal altyd vir ons ‘n spesiale plek hê.”
Op Warrior House se webtuiste lees jy: “Ons droom ken geen perke nie – ons voorsien ‘n toekoms waar elke kind met unieke vermoëns toegang het tot gespesialiseerde onderwys en sorg, hier in die hartjie van die Swartland, in Moorreesburg.”
Barnard sê: Die dryf na die sentrum was rêrig om as ‘n kind tien persent kan verbeter as gevolg van terapie en dit kan hom op ‘n beter plek sit as gister, dan wil ons daardie fasiliteit so stel dat die kinders so gou moontlik die regte behandeling kry sonder dat dit ‘n druk op die ouers plaas.
“As hierdie sentrum oor ‘n jaar of tien dit kan gee vir die breër spektrum, dan is dit ons doel.
“As Warrior House werk, is dit die stukkie wat ons kan agterlaat.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!