Kan Swartland uitsien na lughawe én Formule 1-renbaan?
As als volgens plan verloop kan Swartlanders uitsien na ‘n splinternuwe internasionale lughawe op hul voorstoep wat reeds in 2028 die eerste vlugte kan ontvang.
Nóg ‘n groot ontwikkeling wat straks in die toekoms beslag kan kry, is ‘n Formule 1-renbaan binne-in die Swartland.
Só het die munisipaliteit Vrydag op ‘n Swartland Toerisme-netwerkbyeenkoms op Delsma by Hermon gesê.
“Ons het reeds drie besprekings gehad met ‘n groep mense wat ‘n Formule Een-baan in ons jurisdiksiegebied wil vestig.”

Daar sou Vrydag nog ‘n gesprek gewees het, maar dit moes weens vlugprobleme uitgestel word.
“So verbeel jou net die Kaapse Wynland-lughawe en die Formule 1-baan soos die kraai vlieg net ‘n paar kilometer van mekaar af.
“Formule 1 het iets soos 36 kritieke punte waaraan ons sal moet voldoen,. Die een was dat hulle naby die stad wil wees, hulle wil Tafelberg sien, en dan wil hulle 30 minute van ‘n lughawe af wees.
“Ons het hulle op ‘n kaart gewys. Nou sal dit selfs nader aan ‘n lughawe wees.
“Daarom is daar werklike belangstelling in hierdie verband.
“Ons weet dit is nog vroeë dae, maar ons droom ook oor die vestiging daarvan.”
dié courant het by navraag verneem die standplaas wat tans vir die moontlike bou van ‘n F1-baan geïdentifiseer is, is binne die Swartlandse grense tussen Kalbaskraal en Philadelphia.
Dit is inderdaad tans net verkennende gesprekke en sal so ‘n baan, volgens verneem word, op die vroegste nie voor 2031 gestalte kan kry nie. Die moontlikheid van ‘n veeldoelige gebruik om ook ‘n groot konferensiesentrum daar te vestig, word ook ondersoek omdat so ‘n baan slegs een keer per jaar vir twee renne – F1 en Moto GP, twee weke ná mekaar – gebruik word.

Intussen hoop die konsortium wat die Kaapse Wynland-lughawe privaat wil ontwikkel op die ou Fisantekraal-vliegveld om binnekort die finale goedkeuring van die Wes-Kaapse regering te ontvang nadat daar verlede jaar appèl aangeteken is.
Deon Cloete, besturende direkteur, het by die geleentheid vertel dat die lughawe ‘n belangrike besparing vir internasionale rederye kan inhou omdat dit beteken daar sal nou vir die eerste keer ‘n naby landingsalternatief t.o.v. Kaapstad Internasionale Lughawe wees, indien nodig. Vlugte sal dan nie nodig hê om groot hoeveelhede (tot 10 ton) ekstra brandstof oor lang afstande van bv. Europa te dra nie. Dit sal ‘n enorme besparing of die moontlikheid vir ekstra inkomstegenererende vrag teweeg bring.

Die plan is om die private Kaapse Wynland-lughawe oor vyf fases te ontwikkel met die eerste fase (teen ‘n beraamde koste van R8 miljard) wat sowat 1,7 miljoen passasiers per jaar sal kan ontvang. Die totaal ná die vyfde fase sal volgens beplanning meer as 5 miljoen passasiers in 2050 wees. Die totale geraamde koste beloop sowat R20 miljard.
Dié perseel is sowat 40km vanaf Malmesbury, terwyl die afstand tussen Malmesbury en Kaapstad Internasionale Lughawe (KIL) sowat 70km is.

Cloete het ook gepraat van die toekomstige moontlikhede om die lughawe met spoor met die Tafelbaai-hawe en Saldanha te verbind omdat die bestaande spoorlyn (Fisantekraal- en Mellish-treinstasies) naby die perseel verby loop.
‘n Hoofaanloopbaan van 3,5 km (300m langer as die bestaande aanloopbaan by KIL) is deel van die lughaweplanne. Die lughawemaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) het wel onlangs aangekondig dat KIL se aanloopbaan ook tot 3,5km opgegradeer gaan word.

Cloete, wat vir 12 jaar die besturderende direkteur by KIL was en ook betrokke by die bou van die King Shaka-lughawe in Durban, sê volgens plan sal die Kaapse Wynland-lughawe nie ‘n tradisionele lugbeheertoring hê nie, maar wel ‘n moderne digitale lugbeheersentrum van waar ander lughawens se lugverkeer ook beheer sal kan word.
Ook sal dié lughawe by Fisantekraal die eerste een wees waar fynbos eerder as gras gevestig sal word.
Cloete het op ‘n vraag oor die roete van die vliegtuie gesê die geraasbesoedeling oor die naaste woonbuurte sal minder wees as dié van voertuie op dorpspaaie.
Die bekende miljardêr Rob Hersov, wat aanvanklik by die projek betrokke was, het vroeër sy belange verkoop en is nie meer betrokke nie.
Onder die beleggingsgroepe wat tans by dié projek betrokke is, tel Suid-Afrika se grootste eiendomsbeleggingstrust, Growthpoint, wat internasionaal en plaaslik talle ontwikkelings waaronder 50% aandeel in die V&A Waterfront met ‘n omset van sowat R30 miljoen per dag besit.
Die lughawe-eienaar en -ontwikkelaar is RSA Aero en WBHO (Wilson Bayly Holmes-Ovcon) is die hoofkontrakteur en ook ‘n aandeelbelegger.

Die burgemeester van Swartland, raadsheer Harold Cleophas, het Vrydag gesê hulle sien uit na die toekomstige vrugte wat dié netwerkgeleentheid sal afwerp.
Onder die ander sprekers was die Duitse toerismekonsultant en sakevrou Hanna Kleber van die Kleber-groep.
Sy het meer as vier dekades se ondervind in die reisbedryf en gepraat oor Swartland as ‘n unieke streek met unieke produkte en ervarings om aan internasionale toeriste te bied.
Nog ‘n toerismekenner, Annemarie Ferns (uitvoerende hoof van Stellenbosch 360), het gesê: “Swartland is gereed.”
