2009-Swartlanders blitsig oor kort afstande
‘n Jong 17-jarige leerling van die Hoërskool Porterville het die naweek die 100m in die vinnigste tyd tot dusver vanjaar in die wêreld in sy ouderdomsgroep afgeblits.

Marlon Kayster (graad 11) het op Atletiek Suid-Afrika se kampioenskappe vir o.16 tot o.23-atlete in Germiston die goue medalje in die mans onder o.18-eindwedloop ingepalm met ‘n wentyd van 10,32sek. Sy wentyd in die halfeindwedloop was 10,44sek.
Dié boorling van die Piketberg het vroeër vandeesmaand al die Wes-Kaapse skolerekord na ‘n vinnige 10,37sek verbeter. hy is al vanaf graad 7 by Hoërskool Porterville en van jongs af groot in atletiek, vertel mnr. Heini Redelinghuys wat nou gemoeid is met sport by die skool.

Nóg twee Swartlanders, Mitchell Maarman (deesdae in Hoërskool Stellenbosch) en Micah Africa (Hoër Jongenskool Paarl) – albei soos Kayster in 2009 gebore – was ook blitsig in Germiston.
Dié twee was lede van die Boland-viertal wat die 4x100m aflos vir mans o.18 in ‘n nuwe SA-rekordtyd van 40,71sek gewen het.
Kayster het in Germiston ook silwer gebuit in die 200m toe hy ‘n tyd van 21,0sek aangeteken het agter die wenner van die WP, Ubay Arend.

Africa en Maarman was onderskeidelik 5de (21,17sek) en 7de (21,37sek) in die 200m-eindwedlooop.
Die Bolandspan het in Germiston die derde meeste medaljes (69 – 24 goud, 21 silwer, 24 brons) ingepalm met die WP (6de) wat 24 medaljes Kaap toe gebring het.
Die atlete neem weer van 4 tot 6 April in Rustenburg deel aan die SA Skolebyeenkoms.
