LatestSports

Wesbank steeds voor, dan volg Porterville, Saron en Abbotsdale

Wesbank se eerste rugbyspan is steeds onoorwonne (die enigste in die Swartland) in die Boland Grootuitdaagliga ná hul sege Saterdag op Darling.
Maklik was dit nie en Darling het reeds vroeër met goeie vertonings gewys dat hulle hul vanjaar in dié kompetisie wil laat geld. Een van hul belangrike vertonings was dié van die vorige naweek toe hulle Abbotsdale met 28-22 op laasgenoemde se tuisveld geklop het.
Wesbank het Saterdag se kragmeting met 28-25 gewen nadat Darling aanvanklik met 8-0 voorgeloop het.
Die Koringboere was rustyd met 14-8 voor en het die voorsprong tot 28-8 gerek, voordat Darling begin terugveg en die gaping uiteindelik tot 3 punte laat krimp het.

Wesbank is tans met 20 ligapunte (vier voor hul naaste teenstaanders, Porterville en Saron – op 16 punte elk) in die eerste plek op die punteleer.
Al die klubs neem die komende naweek (Paasnaweek) ‘n blaaskans.
Porterville het Saterdag met 43-12 tuis met Koringberg afgereken en Saron het op Wittewater met 34-29 teen die tuisspan vasgeval.
Intussen het Moorreesburg Saterdag hul eerste sege van die seisoen behaal toe hul op tuisbodem die besoekers van Riebeek United met 54-15 geklop het. Die tuisspan het 8 drieë gedruk en danksy goeie skopwerk is sewe daarvan verdoel. Riebeek United kon nog nie een van hul eerste vier wedstryde vanjaar wen nie en is tans heel onder op die punteleer.

Abbotsdale (tans vierde op die punteleer, maar naas Wesbank met die tweede grootste punteverskil) het die afgelope naweek na Riebeek-Wes gereis en ‘n wegholsege van 71-5 oor Good Hopes behaal. Laasgenoemde is naas Riebeek United die enigste ander span wat nog nie ‘n kragmeting kon wen nie en lê tans tweedelaaste. Hulle het vroeër in hul tweede wedstryd (tuis teen Saron) twee bonuspunte verdien met vier of meer drieë en met sewe of minder punte verloor.
Heinrich Robertson, mediabeampte van Abbotsdale, berig vleuel Dowan Mahoney was Saterdag die onbetwiste ster van die dag en het vier keer oor die doellyn gehardloop.
“Van die eerste fluitjie af het Abbotsdale hul bedoelings duidelik gemaak. Deur met spoed, presisie en selfvertroue te speel, het hulle deur die verdediging van die opponerende span geskeur en vinnig ‘n gemaklike voorsprong opgebou.

“Teen rustyd was die uitslag so te sê verseël, met Abbotsdale stewig in beheer.
“Die span het ‘n afgeronde vertoning gelewer, met voor- en agterspelers wat naatloos gekombineer het om ruimte oor die veld te skep en te benut.
“Voorlangs het Delano Baartman en Rheinard Adonis ‘n stewige fondament gelê, die fisiese uitruilings oorheers en kwaliteit bal vir die agterlyn verskaf.
“Agter het Marvin Malgas vonk en onvoorspelbaarheid bygevoeg wanneer hy by die aanval aangesluit het.
“Good Hopes kon slegs baie laat ‘n troosdrie behaal.”
Ná die komende naweek se ruskans, kom Abbotsdale in ‘n derby teen Never Despair te staan. Laasgenoemde (tans 8ste) kon nog nie lekker op dreef kom nie en het die afgelope naweek in ‘n tuiswedstryd vasgeval teen Mamre (21-23). Dit sal egter altyd ‘n groot oordeelsfout wees om Spairs te onderskat.

Leave a Reply

error: Content is protected !!