Agri/BusinessLatestNews

Verbypad: ‘Swartland baie opgewonde oor positiewe impak’

Die nuwe Malmesbury-verbypad van 6,7km wat teen ‘n koste van R693 miljoen gebou is, word vandag deur die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, en Wes-Kaapse LUR vir infrastruktuur, Tertuis Simmers, geopen.
Bouwerk om die bestaande Hopefield/N7-wisselaar met die Paarl/Riebeek-Kasteel (R45/R46)-aansluiting te verbind, het in 2023 begin.

Die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, raadsheer Harold Cleophas, sê by navraag: “Die nuwe verbypad is ‘n belangrike stap vorentoe vir veral padveiligheid en verkeersvloei vir die dorp van Malmesbury. Met die swaarvoertuie wat minder deur die dorp beweeg help dit ook om ons eie plaaslike infrastruktuur te beskerm en verkeersvloei te verbeter.

“Dit bied egter ook ’n goeie geleentheid vir ekonomiese ontwikkeling en groei aangesien dit die vervoer van goedere, en veral landbou produkte van en na die Swartland, vergemaklik. Dit vergemaklik ook die toegang tot die Riebeek Vallei, en ontsluit nuwe ekonomiese geleenthede vir hierdie streek. “
“Hierdie nuwe verbypad skep dus geleenthede vir ons gemeenskap, vir groei en welvaart, terwyl dit ook die algehele veiligheid op die paaie in ons streek verbeter. Swartland is baie opgewonde oor die positiewe impak wat hierdie tipe infrastruktuurbelegging in ons streek gaan hê.”

Die nuwe pad sluit vyf nuwe brûe, ‘n graad-geskeide wisselaar, ‘n onderdeurgang vir ‘n landbougrondeienaar en verskeie stormwaterstrukture in.
Ongeveer 14 000 m³ voorafgemengde beton is vir die brugstrukturegebruik.

‘n gedeelte van Piketbergweg is verlê en opgegradeer.

Die pad strek bo-oor Piketbergweg en die Rustfonteinpad asook oor rivier en sensitiewe vleilandomgewing en oor Malmesbury se hoofwatertoevoerlyn en het ook onder meer die verskuiwing van vesel- en telekommunikasielyne genoodsaak.
Dit bestaan uit twee 3,7m breë bane en twee 2,4m geteerde skouers.

Dié nuwe pad maak deel uit van die groter padnetwerkplan om die hawe van Saldanha en die N1 en N2 te verbind in die nasionale infrastruktuurplan 2050.
Vir inwoners van die Riebeekvallei beteken die pad hulle kan nou die Malmesbury-dorpsgebied vermy as hulle na die de Zwartland Markt-sentrum of Crestcare-hospitaal wil gaan. ‘n Rit op die nuwe verbypad sal ongeveer 3,5km langer wees as die kortste roete agter Hoërskool Swartland verby, maar waarskynlik vinniger omdat ‘n hele paar stoptekens en ‘n stukkie grondpad uitskakel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!