Daisy-huis ontvang pakkies vir slagoffers
By die Daisy veilige huis vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld is daar die afgelope 5 jaar al meer as 250 vroue en kinders gehuisves. Só vertel maatskaplike werker Marilyn Blaauw.

Dié huis van veiligheid in die Bergrivier munisipale gebied is ‘n satelliet van die Siyabonga Care Village op Vredenburg en bied aan die slagoffers – dikwels moeders met kinders – vir twee weke ‘n veilige tuiste voor hul na ander plekke uitgeplaas kan word.

“Wanneer die slagoffers by die skuiling aankom, dikwels net met die klere wat hul aan het, ontvang hulle ‘n waardigheidspakkie. Dit beteken vir hulle ontsettend baie.”
In samewerking met die department van maatskaplike ontwikkeling het hulle na die sementreus PPC uitgereik om hulp met die verskaffing van dié pakkies in die Wes-Kaap.
Gister het Wilna Gilbert-Cloete van PPC pakkies aan die Daisy-huis oorhandig nadat daar vroëer reeds ook in samewerking met die Cape Care-fonds by ander veilige huise in die Wes-Kaap pakkies oorhandig is.

“Hierdie pakkies bied meer as basiese noodsaaklikhede vir die vroue en kinders. Dit herstel ‘n gevoel van waardigheid, sorg en erkenning by mense wat uiters moeilike omstandighede ervaar het. Dit is ‘n herinnering dat hulle raakgesien, gehoor en ondersteun word.”

Gilbert-Cloete het vertel dat dié behoefte en belangrikheid om die waardigheid by slagoffers te herstel, haar so aan die hart gegryp het, dat hulle dié projek nou geïmplimenteer het by al hul aanlegte landwyd waar daar sulke veilige huise in die omgewing bestaan.
