LatestNews

“Nuwe” ou Loedolffhuis ‘bykans voltooi’

Die afronding van die historiese Loedolffhuis in Malmesbury vorder fluks en as als volgens plan verloop, sal die gebou gereed wees vir die beplande opening aanstaande maand.
Die gebou wat pas gerestoureer is, behoort aan die Weskus Kollege.

Die hoof van die kollege, Lungisa Mbulawa, sê by navraag aan dié courant: “Die beoogde toekomstige gebruik vir Loedolffhuis as ‘n konferensie- en geleentheidsfasiliteit, is nou byna voltooi. Die fasiliteit sal bestuur en bedryf word deur studente van die kollege en die gasvryheidskool, terwyl die opleiding in restaurantdienste ook as deel van die praktiese leerervaring ingesluit sal word. Dit sal waardevolle geleenthede aan studente bied om met belanghebbendes te skakel en noodsaaklike praktiese ondervinding op te doen.
“Die konferensie- en vergaderlokale is gemeubileer en beide die gastekamers en kombuise is volledig toegerus en gereed vir gebruik. Die projek is tans in sy finale fase, met slegs die oorblywende verfwerk, finale afrondings en klein items wat voltooi moet word.

“Die Malmesbury-kampus en die gasvryheidskool is opgewonde om in hul nuwe ruimte in te trek.
“Die aangrensende Loedolf-anneks komplementeer dié visie verder deur ‘n bakkery te huisves wat spesialisopleiding in patisserie sal bied, en sodoende die praktiese vaardigheidsaanbod vir studente in die gasvryheidsveld te verbeter.
“Hierdie mylpaal is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die W&RSETA (Groothandel en Kleinhandel Sektor Onderwys- en Opleidingsowerheid) saam met die leiding van Erfenis Wes-Kaap.”
Op ‘n vraag of die fasiliteit as ‘n volwaardige restaurant vir die publiek bedryf sal word: “Vir nou, nee. Dit is hoofsaaklik ‘n vaardigheidsontwikkelingsfasiliteit om studente te voorsien van praktiese vaardighede wat relevant is tot die gasvryheidsektor.”

*Loedolffhuis het ‘n ryke geskiedenis.
Gedeeltes van die huis dateer uit die vroeë 1800’s. Al glo erfeniskenners die gebou het wel aanvanklik ‘n geweldak gehad, toon beskikbare foto’s dat dit later net ‘n sinkdak sonder gewels was. Dié is sowat twintig jaar gelede met ‘n rietdak en gewels vervang nadat daar groot skade aan die huis was toe ‘n voertuig onder meer in die hoek vasgery het. Die swaar nuwe gewels (voor en agter) en rietdak het, onder meer oor waterskade, in die winter van 2021 ingesak en daar is nou weer met die rietdak en gewels weggedoen.
Die huis en straat is vernoem na ‘n bekende rolspeler in die geskiedenis van die NG Kerk wat in die 19de eeu die huis besit en daar gewoon het.
Hugo Hendrik Loedolff was ‘n plaaslike regsman en ook politikus, maar hy is veral bekend as die ouderling wat die sinode in 1862 hof toe gesleep het om gemeentes buite die Kaap uit die sinode te skop en te dwing om hul eie sinodes te vorm.
Loedolff het dit gedoen nadat die sinode hom nie vroeër wou gelyk gee nie en hy het hom toe met sukses tot die hof gewend.

Dit was die tyd van die sogenaamde liberale beweging. Op Malmesbury het ‘n groep lidmate (“die liberales”) weggebreek van die Moederkerk en hul eie kerk gestig onder ds. Johannes Kotze (voorheen die eerste vaste predikant op Darling, maar toe toe geskors oor sy “liberale leringe”).
Vandaar ook die kerkgebou en pastorie (die “liberale kerk”) wat toe laer af in Loedolffstraat gebou is. Dié perseel word tans in ‘n funksielokaal en vir ander gebruik gerestoureer.

Loedolff en sy vrou, Clara, het naas hul eie kinders ook die jongste kind van Swartland se bekende ds. Johannes Carolus le Fèbre Moorrees (Clara se broer) as baba ingeneem nadat sy vrou enkele weke ná sy geboorte in 1855 oorlede is.
Dié seun, Adriaan Hermanus Moorrees, was later ‘n predikant voor hy in 1908 hoogleraar by die kweekskool op Stellenbosch geword.
Hy is in 1918, toe die Victoria Kollege die Universiteit van Stellenbosch geword het, as eerste vise-kanselier aangewys. In daardie jare was die posisie van rektor en vise-kanselier nog nie saamgevoeg nie. Moorrees was vise-kanselier tot 1932. Hy is ook die enigste persoon wat vise-kanselier en kanselier (1932 tot sy dood in 1938) van die universiteit was. In 1981 is die posisies van rektor en vise-kanselier saamgevoeg.

Moorrrees, soos sy pa (2de vrou) en oupa Moorrees, is ook met ‘n nooi Smuts (Maria Magdalena) getroud. Sy was ‘n jonger niggie van genl. Jan Smuts se pa, Jacobus Abraham.
*Die “liberale” ds. Johannes Kotze se tweede vrou was Johanna Moorrees. Sy was ‘n broerskind van ds. Johannes Carolus le Fèbre Moorrees en niggie van Adriaan Moorrees.

Leave a Reply

error: Content is protected !!