‘Maggie is by die Huis’ – 140 jaar
Van haar werke op Malmesbury uitgestal tot 27 April
Die uitstalling van werke van die bekende kunstenaar Maggie Laubser in die Malmesbury Museum is vanoggend geopen.
Maria Magdalena Laubser is vandag 140 jaar gelede (op 14 April 1886) op die plaas Blaauwblommetjieskloof in die (toe) Malmesburydistrik gebore.
Haar kinderjare op die plaas langs die huidige Slentweg naby Klipheuwel – die landelike lewe, werkers, diere en die immerveranderende lig van die Swartland – het ‘n diepgaande invloed op haar latere kuns gehad. Die plaaslike landelike temas kom dikwels in haar kuns voor.

Laubser was eers in ‘n plaasskool en het toe later aan Bloemhof op Stellenbosch skoolgegaan.
Sy is in 1913 saam met haar suster Nederland toe en het die daaropvolgende jaar in Londen by ‘n kunsskool aangesluit.
Hierna het Laubser in onder meer België, Italië en Duitsland gewoon, kuns studeer en saam met ander in die kunswêreld gewerk.

Sy het in 1924 permanent teruggekeer na Suid-Afrika en weer op ‘n familieplaas Oortmanspost (langs die pad na Philadelphia) in dieselfde Klipheuweldistrik gewoon.
Van 1947 af het sy in haar huis Altyd Lig in die Strand gewoon, waar sy tot haar dood op 17 Mei 1973 aktief bly skilder het.

Saam met onder meer Irma Stern word Laubser beskou as een van die pioniers wat ekspressionisme na Suid-Afrika gebring het.
Deon Oliver, voorsitter van die Maggie Laubser Stigting, het by die opening vanoggend vertel hoe hy in ‘n gesprek besef het hoeveel mense in haar werk belangstel en het toe die bal aan die rol gesit vir die spesiale Maggie Laubser Dag-viering en uitstalling. Hy het Sanlam en Stefan Hundt, kurator van die Sanlam-kunsversameling, bedank vir hul bydrae tot die spesiale dag en uitstalling.

Die kurator van die Malmesbury Museum, Megan de Beer, het die lint vir die opening geknip.
Die uitstalling van 30 geselekteerde werke sluit ‘n verskeidenheid oor Laubser loopbaan in.
Dit duur tot 27 April. Die museum se ure is van 08:00 tot 13:00 Maandag tot Donderdag en 08:00 tot 12:00 op ‘n Vrydag. Dit sal vir die volgende twee Saterdae tydens die duur van die uitstalling ook in die voormiddag oop wees.
