Planne om druk op Swartland se drinkwaternetwerk te verlig
Voorlopige beraamde koste: R450 miljoen
Die vergroting van die kapasiteit van die grootmaat-drinkwaterlyn vanaf die Voëlvlei-watersuiweringswerke is een van die groot projekte in die Swartland Munisipaliteit se konsep-meerjarige kapitaalbegroting wat tans ter insae lê.
Die druk op die grootmaat-drinkwaterlyn noodsaak die verhoging in kapasiteit om ‘n groter volume water na die Kasteelberg- en Klipfontein-reservoirs en verder te kan voer.
Dié item is tans een van ‘n paar kapitaalprojekte van meer as R50 miljoen op die begroting oor die volgende paar jaar.

Die dorpe Riebeek-Kasteel, Riebeek-Wes, Malmesbury, Abbotsdale, Kalbaskraal, Chatsworth, Riverlands, Darling en Yzerfontein is van dié waternetwerk afhanklik vir drinkwater.
Omdat daar met die huidige aanvraag min reserwekapasiteit op die bestaande lyn is, daal die watervlakke in die reservoirs aansienlik sodra daar enige probleme by die watersuiweringswerke of op die lyn ontstaan.
Die munisipaliteit moes inwoners onlangs versoek om minder water te gebruik omdat die vlakke van die reservoirs laag was en dan tyd neem om weer die ideale vlakke te bereik. Dit was die gevolg van vandalisme en ‘n elektriese fout aan Eskom se kant.
Die munisipaliteit beplan om, onderhewig aan die nodige goedkeurings, ‘n nuwe pyplyn te lê vanaf die Voëlvlei-suiweringswerke wat onder kontrak deur die Weskus Distriksmunisipaliteit bedryf word.
Die woordvoerder van Swartland Munisipaliteit, Mart-Marié Haasbroek, verduidelik by navraag: “Die dorpe in Swartland wat deur die Voëlvlei-waterwerke bedien word, gebruik gemiddeld ongeveer 14 500 kiloliter water per dag. Die stelsel werk nie met spesifieke piekure nie, maar toon ’n piekfaktor van 1,28, wat neerkom op ’n piekverbruik van sowat 18 800 kiloliter per dag.
“Die huidige kapasiteit van die waterwerke en die gepaardgaande pyplynstelsel is ongeveer 980 kiloliter per uur.”
Sy sê aan dié courant: “Met die oog op toekomstige groei, beplan die munisipaliteit ’n omvattende opgradering van beide die suiweringswerke én die grootmaatverspreidingstelsel. Hierdie projek, wat oor die volgende 7 tot 10 jaar geïmplementeer sal word, sluit ook reservoirs in en het ’n voorlopige beraamde koste van ongeveer R450 miljoen.

“Na voltooiing van die opgradering word beoog dat die kapasiteit van die stelsel tot ongeveer 1 650 kiloliter per uur verhoog sal word. Hierdie uitbreiding behoort voldoende kapasiteit te bied om in die verwagte waterbehoeftes van die gebied vir die volgende 20 jaar te voorsien.”
By ‘n onlangse voorlegging by die Vroue-Landbouvereniging se sirkelkonferensie het Kaashifa Aziz van die Stad Kaapstad vertel van die werk wat gedoen word om rioolwater sodanig te suiwer dat dit vir menslike gebruik weer terug in die drinkwaterstelsel gevoer kan word. Sy het ook gepraat oor ontsouting wat aansienlik duurder is as dié suiweringsmetode.
dié courant het die Swartland munisipaliteit ook gevra na moontlike gebruik van alternatiewe waterbronne soos gesuiwerde rioolwater.

“Wat alternatiewe waterbronne betref, is daar tans geen planne om gesuiwerde rioolwater verder te behandel vir menslike gebruik nie. Gesuiwerde afvalwater word egter reeds effektief aangewend vir besproeiingsdoeleindes.
“Dit is belangrik om daarop te let dat alhoewel daar voorsiening gemaak word vir groei in die Swartland, water steeds ‘n beperkte hulpbron bly en inwoners ten alle tye verantwoordelik en spaarsamig daarmee moet handel.
“Die voortslepende impak van klimaatsverandering het ‘n beduidende impak of wanneer en hoeveel reën verwag kan word,” het Haasbroek bygevoeg.
*Die konsep Geintegreerde Ontwikkelingsplan asook die konsep bedryfs- en kapitaalbegrotings is ter insae beskikbaar vir die publiek gedurende kantoorure by die munisipale kantore asook die
biblioteke in Malmesbury, Moorreesburg, Darling, Abbotsdale, Chatsworth, Riebeek-Wes, Riebeek-Kasteel en
Yzerfontein. Die dokumente is ook beskikbaar op die Munisipaliteit se webtuiste by www.swartland.org.za.
Die sperdatum vir skriftelike insette of kommentaar is Woensdag, 22 April om 12:00.
