Wesbank steeds span om te klop
Die eerste ronde van die Boland se klubrugbyseisoen is nou bykans halfpad en Wesbank is steeds die span om te klop in die Swartland-streek.
Die Koringboere, tans die enigste onoorwonne Grootuitdaagspan in die streek, het nou ‘n voorsprong van vyf ligapunte (25) nadat hulle die afgelope naweek hul tuiswedstryd teen Goodhopes maklik met 39-10 gewen het. Wesbank was met die omdraaislag met 17-0 voor.

Die Riebeekvallei se ander span, Riebeek United, het op hul beurt op hul tuisveld vasgeval teen die besoekers van Darling. Die Melkboere het ‘n wegholoorwinning van 55-5 behaal en een posisie opgeskuif in die sesde plek op die puntetabel.
Abbotsdale is terug in die tweede plek op die punteleer met 20 ligapunte. Hulle het Saterdag op hul tuisveld net te veel skietgoed gehad in die derby-kragmeting teen Never Despair en ‘n wentelling van 31-13 aangeteken. Lillies het rustyd met 17-3 voorgeloop.
Saron het Saterdag gasheer gespeel vir die span van Porterville. Daar was bitter min te kies tussen dié twee bure en dit word weerspieël in die gelykopuitslag van 31 punte elk.
Porterville lê nou met een ligapunt agter Lillies in die derde plek met Saron tans vyfde.
Villagers Wittewater het twee plekke geklim tot in die vierde posisie toe hulle in ‘n wegwedstryd die span van Mamre met twee punte geklop het (27-25).
Die naweek se ander kragmeting was ook ‘n derby. Moorreesburg het die span van Koringberg ontvang en met 40-25 geseëvier.

*Op die komende naweek se spelrooster behoort die derby tussen die twee Malmesburyspanne – Never Despair en Wesbank – soos gebruiklik weer ‘n grote te wees. Al lê Spairs tans heelwat laer af op die punteleer, sal hulle weer alles in die stryd werp om die voorlopers te klop.
Die ander wedstryde op Saterdag se spelrooster is (tuisspanne eerste):
Darling teen Moorreesburg
Koringberg teen Good Hopes
Porterville teen Mamre
Saron teen Riebeek United
Villagers Wittewater teen Abbotsdale
