LatestNews

Voëlvlei-aanvulling uit Bergrivier vertraag

Die goedgekeurde Bergrivier-Voëlvlei-aanvullingskema (BRVAS) om water vanuit die Bergrivier na die Voëlvleidam te pomp en weer terug te laat indien nodig, is vertraag weens eksterne regsaksies.
Die Voëlvleidam is die hoofdrinkwaterbron van al die dorpe in die Swartland, met die uitsondering van Moorreesburg en Koringberg wat hul water uit die Misverstanddam kry.

Die woordvoerder van die Swartland Munisipaliteit, Mart-Marié Haasbroek, het vroeër aan dié courant gesê hul “toekenning uit die Voëlvlei- en Misverstanddamme saam is tans 9,474 miljoen m³/jaar.
“Swartland se toekenning uit die BRVAS sal na verwagting ‘n verdere 1.66 miljoen m³/jaar wees.”
Volgens ‘n woordvoerder van die departement van Waterwese, Sandile Mawela, is bouwerk aan die skema vertraag.
Mawela het by navraag aan dié courant gesê: “Die projek is amptelik onder implementering. Ons is besig om ‘n keerwal en pompstasie in die Bergrivier naby Zonquasdrift te bou om hoë wintersurplus uit die rivier op te vang en na die Voëlvleidam te pomp. Hierdie skema se vordering is deur ‘n paar hooggeregshofsake vertraag en sal moontlik eers in 2027 begin. Die totale koste word tans op R1,37 miljard geraam.”

Die plan is om die keerwal om water op te dam en ander verwante komponente waaronder om vloei te herlei en sediment te hanteer asook ‘n 5MW-pompstasie by die plaas Lorelei in die rivier te bou. Water kan dan teen tot 6m³ per sekonde oor ‘n afstand van 6,3km na die dam gepomp word.
Dit sal jaarliks sowat 23 miljoen m³ water ekstra beskikbaar maak. Die Voëlvleidam se kapasiteit, wanneer dit vol is, is tans 164 miljoen m³.
Die stelsel sal ook voorsiening maak om, indien nodig, water in die teenoorgestelde rigting na die rivier te voer.
’n Fisiese model van die voorgestelde skema is vroeër by die hidrouliese laboratorium van die Universiteit Stellenbosch getoets. Die model op ’n skaal van 1:40 is gebruik om te bepaal of die voorgestelde plek vir die wateronttrekkingswerke op die rivier geskik is en ook te kyk na die hoogste watervlakke tydens groot vloede.
“Die regsuitdagings wat met die implementering van die BRVAS-projek gekonfronteer word, word deur die Trans-Caledon Tonnel-0werheid (TCTA) hanteer – die projek is amptelik onder implementering,” sê Mawela.
Oor toekomstige planne met die Voëlvleidam: “Daar is planne om die stoorkapasiteit van die dam te verhoog om die invloei van BRVAS fases II en III en die Breede-Berg-Wateroordragskema (ook verwys na as die Mitchell’s Pass-omleiding) teen 2035 te akkommodeer.”

Dit is ‘n voorgestelde wateraanvullingsprojek wat ontwerp is om water van die Bo-Breederivier naby Ceres na die Voëlvleidam af te lei om die wateropbrengs uit die Voëlvleidam te verhoog en sodoende die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel aan te vul.
“Hierdie projek is in die beplanningsfase. Die oorbruggingsuitvoerbaarheidstudie is geadverteer en is geskeduleer om later in 2026/27 te begin.Die verhoging van die Voëlvleidam sal ondersoek word in die uitvoerbaarheidstudie vir die Mitchell’s Pass-omleiding.
“Afhangende van die uitkoms van die uitvoerbaarheidstudie, kan die dam óf verhoog word as deel van die Michell’s Pass-omleiding óf in ‘n latere fase van die Voëlvleidam-aanvulling.”
*Volgens die jongste beskikbare syfers is die vlak van die dam gister voor die reënval op 49,1% aangeteken. Die grootste dam in die Stad Kaapstad se waternetwerk, die Theewaterskloofdam met ‘n kapasiteit van 480 miljoen m³, se vlak was op 43,5% en dié van die Bergrivierdam met ‘n kapasiteit van 130m³ op 40,1%.

Leave a Reply

error: Content is protected !!