LatestSports

Spairs kos Koringboere hul 1ste bonuspunt vanjaar

Dit was Saterdag vanuit die staanspoor duidelik dat die manne van Never Despair nie ‘n oorwinning en ‘n bonuspunt op ‘n skinkbord vir hul “besoekers” van Wesbank gaan aanbied nie.
Daar was oudergewoonte geen genade in dié klipharde derbywedstryd teen Wesbank, voorlopers in die Swartlandstreek van die Boland se Grootuitdaag, nie.

Wesbank het eerste die telbord aan die rol gesit met ‘n drie. Nadat beide spanne elk drie punte bygevoeg het, het Spairs die voortou geneem met ‘n verdoelde drie (10-8) en nóg drie punte voor rustyd aangeteken om met die omdraaislag 13-8 voor te loop.
In die tweede helfte was dit Wesbank se beurt om beheer te neem. Hulle het die bal drie keer deur die mikke gestuur en daarna ook twee keer agter Spairs se doellyn gaan kuier vir 19 onbeantwoorde punte.
Die tuisspan het toe ‘n verdoelde drie by hul rustydtelling gevoeg om die eindtelling op 27-20 in Wesbank se guns te staan te bring.
Spairs het die onoorwonne Koringboere dus tot drie drieë beperk en só verhoed dat hulle, soos in al vyf hul vorige ligawedstryde vanjaar, nóg ‘n volpunte-sege aanteken.
Wesbank is steeds bo-aan die punteleer met ‘n voorsprong van 5 punte.
Abbotsdale het Saterdag op hul beurt op Wittewater in die Put die knie gebuig en van die tweede plek tot die sesde plek teruggesak.
Villagers Wittewater het op hul tuisveld eerste lont geruik en agter Lillies se doellyn gaan draai, voor die besoekers geantwoord het om die telling 5-5 te maak.
Die tuisspan het toe ‘n verdoelde drie bygevoeg om rustyd met 12-5 voor te loop.
Abbotsdale het daarna nog ‘n vyfpunter bygevoeg (12-10) voor die tuisspan met ‘n verdoelde drie hul voorsprong na 19-10 gerek het. Dit was ook die eindtelling.
Wittewater het nou met hul 5de sege van die seisoen tot die vierde plek opgeskuif.

Porterville en Saron het Saterdag onderskeidelik met Mamre (46-26) en Riebeek United (45-15) afgereken en beklee tans onderskeidelik die tweede en derde plekke met ewe veel ligapunte, maar Porterville het ‘n groter punteverskil.
Op Darling was die tuisspan die naweek gasheer vir die spanne van Moorreesburg.
Die Melkboere was te sterk vir die besoekers en het die wedstryd met 34-11 gewen. Hulle het een plek op die punteleer geklim tot op nommer vyf, onder Wittewater in die vierde plek.
In die enigste ander kragmeting van die naweek het Koringberg hul tweede sege van die seisoen behaal toe hul op hul tuisveld die span van Good Hopes met 25-14 geklop het.
Die komende naweek se kragmetings op die spelrooster is (tuisspanne eerste):
Abbotsdale teen Porterville
Good Hopes teen Moorreesburg
Koringberg teen Darling
Mamre teen Saron
Riebeek United teen Never Despair
Wesbank teen Villagers Wittewater

Leave a Reply

error: Content is protected !!