23ste CPM-sportdag weer hoogtepunt
Geleenthede waar kinders hul passie vir sport in ’n gesonde omgewing kan uitleef, is belangrik. Só het Waldo Cloete, die skoolhoof van die Christelike Privaatskool Malmesbury (CPM), by die skool se 23ste Wintersportdag gesê.

Vanjaar se sportdag is deur spanne van 12 skole, waaronder Vredendal, Riebeek-Kasteel, Paarl, Citrusdal en Langebaan, bygewoon. Met altesaam 51 rugbyspanne en 67 netbalspanne op die veld was daar bykans 1 200 leerders wat deelgeneem het.
Onder die uitblinkers was CPM se eie o.9- en o.10-netbalspanne en o.9A-rugbyspan, wat onoorwonne was.
Cloete het bygevoeg dat die waarde van die byeenkoms veel verder as die telbord strek. “Om te sien hoe kinders van regoor ons streek met soveel oorgawe speel en vriendskappe smee, herinner ons aan die ware krag van sport.
“Hierdie dag gaan oor meer as punte; dit gaan oor die skep van herinneringe en die bou van karakter in ’n ondersteunende gemeenskap. Ons is ongelooflik bevoorreg om soveel talent en samesyn op ons velde te kan verwelkom.”

Die skool het hul opregte dank uitgespreek teenoor die dag se borge: AFGRI, Agrimark, Citrusdal Kelders, FODB, Food Lover’s Market, InteliGro, Myride Malmesbury, Nebula Asset Protection, Nova Voere, Overberg, Rugga Roots, Shift Netball Academy, Swartland Finansiële Dienste en Tyremart. – (berig en foto’s verskaf)







