Agri/BusinessLatestNews

Bel beesboere nou gereeld, vra Agri Malmesbury-voorsitter

Bel die beesboere met die positiewe bek-en-klouseer-kuddes gereeld, maar moet nie gaan kyk wat op hul plase aangaan nie. Moenie nou vir hulle gaan kuier nie. As jy wil kuier saam met een van hulle, kuier in die dorp.
Só het John Dürr, voorsitter van Agri Malmesbury, gevra by hul jaarvergadering, wat deur min beesboere bygewoon is.
“Baie van hulle is vasgevang in die hele bek-en-klouseer. Die ouens is maar versigtig en is nog nie almal gereed om self vergadering te hou nie. Van hulle is onder groot druk.”

Dürr het vroeër in sy jaarverslag gesê die veebedrywe was “in die tweede helfte van verlede jaar in ‘n baie gunstige posisie. Veral die styging in produsentepryse van tussen 20 en 25% by beide bees- en skaapvleis, gedryf deur uitvoere, het aanvanklik baie belofte ingehou vir ‘n goeie seisoen.”
Vroeg in November het “die onvermydelike egter gebeur en het bek-en-klouseer ook sy opwagting in die Wes-Kaap gemaak met katastrofiese gevolge vir ons uitvoermarkte van veral rooivleis.”
Dit het gelei tot dalende pryse.
Hy het ook na die uitbraak ‘n paar maande gelede by die eerste melkkudde in die Malmesbury-gebied en twee verdere kuddes verwys. Daardie twee kuddes was toe reeds ingeënt en die gevolge was minder katastrofies.
“Die rol wat staats- en private veeartse en hul tegniese personeel speel, om hierdie hoogs aansteeklike siekte onder beheer te bring en te hou, word nie altyd na waarde geskat nie en daarom eer ons as Agri Malmesbury met groot dankbaarheid die groot werk wat hulle doen.”
Dürr is op die vergadering tot voorsitter herkies en só ook die ondervoorsitter, Hentie Smit, die sekretaresse, Erna Thiart, en die assistent-sekretaris, Philip Geldenhuys.

Naas die voorsitters van elk van die studiegroepe wat ex officio op die bestuur dien en Liam Viljoen en Joepie de Kock (beide verteenwoordigers by Agri Wes-Kaap) is die volgende addisionele lede ook verkies: Truter de Kock, Gert Claassen, Michiel Smuts, Paul Truter en Hannes Coetzee.
Dürr het die veeartsenykundige tegnikus Marius Vrey, bedank vir sy jarelange diens aan die plaaslike landbousektor, veral ook by die kleinboere. Vrey het onlangs afgetree.

John Dürr (links) en Marius Vrey.

Agri Malmesbury het ook vyf diensverskaffers vereer. Die lede het diensverskaffers vir dié toekenning genomineer en die top-5 vir die jaar is op dié manier aangewys.
Hulle is: Henrit Agri (1ste), JHL Ingenieursverskaffers (2de), Octavoscene (3de), InteliGro (4de) en LPS Malmesbury (5de).

Saam met die ondervoorsitter van Agri Malmesbury, Hentie Smit, is die ontvangers van die diensverskaffertoekennings: Corné Kruger (JHL Ingenieursverskaffers), drs. Ida Glover en Carla van der Merwe (Octavoscene), Hennie van Rooyen (Henrit Agri), Adriaan Geldenhuys (InteliGro) en Pieter Roux (LPS Malmesbury).

Die gasspreker vir die aand was dr. Lizelle Grobler, ‘n forensiese psigofisioloog, hipnoterapeut en mentalis wat haar doktorsgraad in metafisiese wetenskap verwerf het. Sy is ‘n gesertifiseerde profileerder en het ‘n meestersgraad in neuro-linguistiese programmering verwerf.

Hier is dr. Lizelle Grobler (middel) saam met die voorsitter, John Dürr, en een van die oudste afgetrede lede van Agri Malmesbury, Lammie Basson (89).

Ds. Catherine Dreyer het met die aanvang van die vergadering haar boodskap gebring uit Psalm 23.
Sy het gesê dié gedeelte dui op genade. “Want die Here is my herder, beteken dat ons nie alleen gelos word om alles self uit te figure nie.

Ds. Catherine Dreyer

“Dit beteken daar is Iemand wat die hele plaas sien. Nie net die twee treë voor my nie. Daar is Iemand wat weet waar dit veilig is. Wat bereid is om in te tree. Om op te tree. Te lei en te keer. Ons soms net weg te skeur van dinge wat ons oortuig was ons nodig gehad het. En as ons eerlik is, is dit juis dié deel waarvan ons nie hou nie. Ons hou van die groener weivelde en die stil waters. Ons hou van oorvloed. Ons hou minder daarvan wanneer die Herder Sy stok en Sy staf uithaal, maar daardie staf is nie straf nie. Dit is beskerming.
“Ons stres oor dinge waaroor ons van die begin af nie beheer gehad het nie.
“God is in beheer deur droogte, deur vloede, deur goeie tye, deur groot oeste, deur geen oeste. Hier is ons nog steeds. God bly getrou. Hy lei ons. Hy is Vader. Hy is en bly die goeie Herder.
“Soek God met jou hele hart. Spandeer tyd met Sy Woord. Spandeer tyd met Jesus.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!