Koringboere kry uiteindelik neus voor
In een van die beste rugbywedstryde propvol skouspelagtige drieë en oorgenoeg opwinding en ‘n uitslag wat tot in die doodsnikke in die weegskaal was, het Wesbank Saterdag uiteindelik die neus voor gekry in hul derbykragmeting teen Abbotsdale.
Wesbank was voor die wedstryd nog onoorwonne in vanjaar se Grootuitdaagliga en met ‘n puntevoorsprong van sewe punte ook gemaklik voor op die punteleer in die Swartland-afdeling. Lillies was ná die vorige Saterdag se sege oor Porterville terug in die top-vier en oorgehaal om die besoekers te verras en te verhoed dat hulle die eerste keer in meer as vyf jaar daar wen.

Die wedstryd het vroeg-vroeg vlam gevat toe Abbotsdale se linkervleuel, Larico Visagie, die bal onderskep en onder die besoekende Koringboere se pale gaan kuier het.
Hierna het die telling bly rol en deurentyd wipplank gery. Die toeskouers is getrakteer op nie minder nie as 12 drieë – ses aan elke kant. dié courant se kamera was daar.
Uiteindelik was dit slegs een strafdoel deur plaasvervanger Gavern Skippers wat die twee spanne op die telbord geskei het, nadat elkeen vyf verdoelde drieë en een onverdoelde drie gedruk het.
Toe Abbotsdale 89 minute ná Visagie se onderskepdrie hul sesde drie onder die pale druk en die telling met die doelskop na 40-36 aanrol, het Lillies-ondersteuners gedink dit is tyd om fees te vier.
Wesbank het egter ander planne gehad en in die oorblywende sewe minute weer die doellyn oorgesteek met ‘n suksesvolle doelskop deur Skippers. Eindtelling 43-40.

Wesbank het só hul onoorwonne status behou en weer volpunte uit die wedstryd verdien om nou op 39 ligapunte te staan.
Hul oorblywende drie kragmetings in die eerste helfte van die seisoen, is dié teen Saron (tuis), Porterville (weg) en Mamre (tuis).
Wesbank se naaste teenstaander op die punteleer is nou die Melkboere van Darling op 32 punte in die tweede posisie. Laasgenoemde het Saterdag die besoekende Villagers Wittewater met 26-17 geklop.
Saron is tans in die derde plek ná hul tuissege van 48-37 oor Koringberg. Porterville beklee ná agt weke die vierde posisie. Hulle het Saterdag op Moorreesburg die tuisspan met 38-30 geklop.

In die naweek se ander wedstryde het Mamre na Riebeek-Kasteel gereis en Riebeek-United met 34-5 getroef terwyl Never Despair hul tuiswedstryd teen Good Hopes met 25-22 gewen het.
Die komende naweek se bepalings (tuisspanne eerste) lyk só:
Good Hopes teen Riebeek United
Koringberg teen Never Despair
Mamre teen Abbotsdale
Porterville teen Darling
Villagers Wittewater teen Moorreesburg
Wesbank teen Saron
