Streek se nuwe jong SA kampioene tuis
Jong Swartlanders het die afgelope naweek in hul Wes-Kaapse kleure geskitter op die nasionale skole-atletiekkampioenskappe wat in Pretoria plaasgevind het.

Onder die streek se nuwe Suid-Afrikaanse kampioene in hul onderskeie items, tel Marlon Kayster van Hoërskool Porterville, Elri Coetzee van Hoërskool Swartland op Malmesbury, Zaldré (Bennie) Adams van die Riebeekvallei Spesiale Skool en ook die oud-Swartlander Micah Africa, deesdae ‘n leerling van Hoër Jongenskool Paarl.
Kayster wat onlangs die vinnigste wêreldtyd vanjaar (10,32s) in die 100m vir o.18-atlete aangeteken het, het Saterdag, ten spyte van ‘n besering, goud gebuit in die Pilditch-stadion in die 200m vir seuns 17 jaar.
Hy het die eindwedloop in ‘n tyd van 21,04 sekondes afgeblits om die spreekwoordelike lint te breek.
Coetzee, ook die Wes-Kaapse Skolekampioen, het in die 5 000m stap vir meisies 19 jaar aanvanklik sterk teenstand gehad, maar deurgaans haar pas volgehou in dié tegniese wedloop. Sy het mettertyd haar teenstanders, waaronder die verdedigende kampioen, afgeskud en uiteindelik ver (met meer as twee minute) gewen in ‘n tyd van 29 minute 13,86 sekondes.

Adams (o.15), ‘n oudleerder van Meiring Primêr op Riebeek-Kasteel het met ‘n afstand van 39,05m die SA-titel in die spiesgooi-afdeling vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes ingepalm.
Africa, ‘n oudleerling van Laerskool Swartland, het op sy beurt die SA-titel in die 100m vir seuns 17 jaar in ‘n tyd van 10,35 sekondes afgeblits om die gouemedalje in te palm.
