Koringboere rek ligavoorsprong
Al is die seisoen nog lank, is die Swartland se verdedigende kampioen, Wesbank, reeds in ‘n baie gunstige posisie om weer die streek se louere in te oes in Boland Rugby se Grootuitdaagliga.
Met nóg ‘n oortuigende sege die afgelope naweek het die onoorwonne Koringboere hul voorsprong op die punteleer met nog twee punte gerek en is nou bykans twee volpuntwedstryde se punte (9) voor hul naaste teëstanders.

Anders as verlede jaar het Wesbank vanjaar vanuit die staanspoor die voortou geneem en hul voorsprong stelselmatig gerek.
Verlede jaar was dit Abbotsdale wat die seisoen goed begin het en tot die 8ste reeks wedstryde voorgeloop het voor Wesbank hul neuse kon voor kry – aanvanklik met ‘n groter punteverskil en toe stelselmatig met ligapunte.
Hulle is wel in een stadium op die puntetabel deur Saron verbygesteek, maar dit was omdat hul een wedstryd uitgestel was.
Wesbank het uiteindelik die streekliga met 5 punte gewen en Abbotsdale was in die tweede plek.

Terug by vanjaar, wissel die posisies verder af bykans weekliks.
Porterville is tans tweede met Darling wat een plek teruggesak het in die derde plek en Mamre tans vierde. Abbotsdale is tans in die sesde plek.
Wesbank het Saterdag besoek ontvang van Saron en al het die besoekers eerste punte aangeteken toe hulle die bal deur die pale gestuur het, het Wesbank die krane gou begin oopdraai.
Die wedstryd is teen ‘n vinnige tempo beslis en die tuisspan het die een drie na die ander ingeryg.
Toe die eindfluitjie met die telling op 64-15 blaas, het die Koringboere reeds 10 keer die bal agter die opponente se doellyn geplant. Saron het twee drieë gedruk.

Porterville het Saterdag gasheer gespeel vir die Melkboere van Darling en die kragmeting met 40-28 gewen nadat hulle rustyd reeds met 21-15 voorgeloop het.
In hul wegwedstryd teen Mamre het Abbotsdale en die tuisspan die louere gedeel met 22-22 nadat Lillies met die omdraaislag nog met 8-3 voor was.
Moorreesburg het op hul beurt na Wittewater gereis. Villagers Wittewater het naelskraap die knie gebuig met die eindtelling op 27-26 in die besoekers se guns.

In die derbywedstryd tussen die twee klubs in die Riebeekvallei wat tans nog die laaste twee plekke op punteleer beklee, het Good Hopes op hul tuisveld verseker dat die besoekende Riebeek United steeds droëbek is ná nege wedstryde. Good Hopes het die wedstryd met 35-28 gewen.
Never Despair het Koringberg op hul tuisveld gaan aanpak. Toe die spanne gaan water drink het, het die besoekers met 18-13 voorgeloop. Hulle het die kragmeting uiteindelik met 44-28 gewen.
Die wedstrydbepaling vir die komende week (tuisspanne eerste) is:
Good Hopes teen Darling
Mamre teen Koringberg
Never Despair teen Moorreesburg
Porterville teen Wesbank
Riebeek United teen Villagers Wittewater
Saron teen Abbotsdale
