LatestNews

Daar is nou “twee Misverstanddamme” vol

Die watervlak van die Misverstanddam is vanoggend op ‘n geskatte 221,5% aangeteken nadat dit gisteraand in een stadium op 228,8% was.

Volgens die jongste beskikbare syfers, soos gemeet by Zonquasdrift, bly die Bergrivier steeds styg. Die vloeimeting daar is reeds sedert Maandagoggend vinniger as die maksimum aangetone 17,9 m³/s wat daar gemeet kan word. Dit hoogte by die metingspunt was in daardie stadium 0,6 m, maar die vlak het aansienlik gestyg en bly steeds styg.

Die Bergrivier in vloed, gister by Hermon

Dit was gistermiddag om 13:00 op 6 m nadat dit Maandagoggend om 08:00 die 1 m-merk bereik het. Vanoggend se meting staan op 7,17 m.

In Malmesbury vloei die Dieprivier reeds sedert vroeg Maandagaand vinniger as die maksimum 29,4 m³/s wat daar gemeet kan word.
Die vlak by die metingspunt was toe op 1,57 m, maar het daarna vinnig gestyg en om 22:30 die aand by 5,4 m gaan draai. Dit het afgeneem maar toe gistermiddag weer tot bykans 4 m gestyg voor dit weer begin daal het. Dit diepte is vanoggend op 1,3 m gemeet.

Daar is nou “twee Misverstanddamme” vol
Die foto deur Trudie van Schalkwyk is gister geneem by die bekende hoë staalbrug, bekend as Die Brug, rivier-af van die Misverstanddam.

Intussen het die vlak van die Voëlvleidam die afgelope 72 uur met vier persentasiepunte gestyg. Dit is Sondagoggend op 51% gemeet en vanoggend was die vlak op 55,1%.

Water vloei gister in een van die Voëlvleidam se toevoerkanale.

Met ‘n kapasiteit van 164 000 000 m³ (kiloliter) verteenwoordig sowat 6 560 000 m³ water wat daar nou meer in die dam is as Sondag.

Om dit in perspektief te sien, kan dit vergelyk word met die Swartland Munisipaliteit se jaarlikse gesamentlike toekenning uit die Voëlvlei- en Misverstanddam van 9 473 600 m³.
*Die Voëlvleidam se vlak van 55,1% is steeds drie persentasiepunte laer as die ooreenstemmende week verlede jaar toe die vlak op 58,1% aangeteken is.

Leave a Reply

error: Content is protected !!