Museumdag: reik uit, anders kan museum sluit
Johan Viljoen
Internasionale Museumdag word jaarliks op 18 Mei gevier. Dié dag is in 1977 deur die Internasionale Raad van Museums (ICOM) in die lewe geroep om die rol van museums as bewaarders van geskiedenis, kultuur en gemeenskapsidentiteit te vier.
In die apatiese gejaagde era van tegnologie en die beskikbaarheid van inligting met die druk van ‘n knoppie op selfone, is die gebrek aan gemeenskapsbetrokkenheid by museums een van die grootste bedreigings vir dié instellings.

Dit is die tendens wêreldwyd om museums te moderniseer en tot gemeenskapsentrums te omvorm om hul voortbestaan te help verseker, juis omdat veranderende vermaakgewoontes/behoeftes die relevansie van museums bedreig.
Die dae van statiese uitstallings van die historiese is in die meeste gevalle getel. In ’n wêreld van kort aandagspanne en digitale vermaak kompeteer dorpsmuseums deurlopend om relevant te bly en sonder modernisering raak hulle verouderd teenoor sosiale media en stroomdienste.
Dit is ook so dat die inklusiewe uitbeelding van almal se geskiedenis soms ongemaklik is, maar met die nodige empatie en omsigtigheid kan uitstallings inklusief wees sonder om klem op die een of ander te plaas en die gevaar te loop om ‘n verdere wig in te dryf.
In die Swartland is daar ‘n paar dorpsmuseums, die provinsiale Koringbedryfmuseum op Moorreesburg en ook ‘n San-erfenismuseum by !Khwa ttu.
Dorpsmuseums is dikwels onder druk en dit is meesal die ouer generasie wat betrokke raak om dit te bestuur en te bewaar. In baie gevalle is dit ook dieselfde handjievol mense wat werklik vir erfenis omgee en dan op ‘n dag handdoek ingooi omdat hulle uitgebrand is.
Finansies is ‘n deurlopende uitdaging vir museums en is dit ook nodig om op daardie front innoverend te wees met projekte en aksies om fondse aan te vul ten einde personeel- en ander uitgawes te dek.
In die Riebeekvallei het die museum verlede week ‘n vergadering gehou om ‘n nuwe bestuur aan te wys omdat geen van die enkele huidige bestuurslede hul weer beskikbaar gestel het nie. Daar was agt mense by die vergadering en geen nuwe vrywilligers wat op die bestuur wil dien nie.

Die voorsitter, Chris Murphy, is reeds vir baie jare by erfenis en aktief by die museum betrokke. Hy woon nie meer in die vallei nie en moet ver hierheen reis. Hy wil nou, ná jare se diens, om verskeie redes die stokkie aangee. Daar is egter tans niemand wat kan oorneem nie.
Murphy en sy komitee het oor jare verskeie aksies geloods om die gemeenskap aktief by die museum te betrek.

Die museum sit nou met ‘n enorme uitdaging. Daar is ‘n wesenlike risiko dat dit gesluit sal moet word as daar nie vrywilligers in die gemeenskap is om dit te bestuur en moontlik volhoubaar te herskep nie.
Die museum is weliswaar ‘n koue ou gebou (in 1856 as ‘n kerk ingewy), maar kan, soos op ander plekke, moontlik ‘n gewilde bymekaarkomplek vir inwoners word om vergaderings en byeenkomste en vertonings te hou. Op dié manier kan die museum meer volhoubaar word en moontlik ook meer aanloklik vir die jonger generasie.

Ook ‘n nouer samewerking met toerisme-instellings kan ‘n enorme wedersydse inspuiting wees.
Dorpsmuseums is veel meer as geboue met artefakte.
Hulle bewaar plaaslike stories wat dikwels NIE op die internet is nie.
Hulle dien as opvoedkundige hulpbronne vir skole en bevorder ook kulturele toerisme.
Sluiting sou ’n onherstelbare verlies wees: ’n armer identiteit.
Gemeenskapsbetrokkenheid is die sleutel tot oorlewing.
Deur betrokke te raak, verseker inwoners dat hierdie instellings nie net oorleef nie, maar kan floreer.
Tegnologie bied vandag meer gereedskap as ooit, maar dit verg gemeenskapsondersteuning om dit te implementeer.

In die Riebeekvallei is daar baie mense met groot kundigheid op verskeie terreine wat juis nie net die voortbestaan van die museum nie, maar ook met die omskepping daarvan dit tot ‘n volhoubare meer moderne instelling kan help.
Hiermee dus ‘n beroep op vrywilligers wat omgee vir erfenis om uit te reik en hul kundigheid beskikbaar te stel om die Riebeekvallei-museum se toekoms te help verseker.
Ons museums se toekoms lê in ons hande.
Op Internasionale Museumdag: Kom ons beskerm ons geskiedenis sodat toekomstige geslagte dit kan ervaar en waardeer.
