LatestSports

Grootuitdaag: Wesbank rek voorsprong

Met die 11de en laaste reeks wedstryde van die eerste ronde in die Swartlandafdeling van Boland Rugby se Grootuitdaag nou agter die rug, sal Wesbank met ‘n puntevoorsprong van 12 punte wegspring wanneer die liga op 20 Junie hervat.
Die Koringboere is nog onoorwonne en het in die eerste ronde in slegs een wedstryd nie die volle 5 ligapunte ingepalm nie, toe hulle in die derbystryd teen Never Despair nie die nodige vier drieë vir ‘n bonuspunt kon druk nie. Wesbank is nou met 54 ligapunte, 12 voor die naaste teenstanders Darling en Porterville onderskeidelik in die tweede en derde posisie met 42 punte elk.

Wesbank het Saterdag op hul tuisveld met 32-28 oor die besoekende Mamre geseëvier.
Darling het met sy tuissege van 33-27 oor Never Despair vier ligapunte verdien om die tweede plek voor Porterville te behou met ‘n groter punteveskil.
Laasgenoemde het op hul beurt na Riebeek-Kasteel gereis en die tuisspan met 40-15 geklop en só 5 ligapunte huis toe geneem.
Abbotsdale het in die vierde plek ingeskuif met ‘n allemintige wegholsege oor Koringberg. Lillies het 116 punte op die telbord geplaas teenoor die besoekers se 12. Dit is die grootste telling en punteverskil tot dusver die seisoen.
Abbotsdale het vanuit die staanspoor beheer oor die wedstryd geneem en binne enkele minute hul eerste drie gaan druk. Hulle het 73 punte op die telbord geplaas voor Koringberg hul eie rekening met ‘n verdoelde drie kon open.
Heinrich Robertson, mediahoof van Abbotsdale, berig die rekordtelling het ‘n drieëskouspel en ‘n totaal van 18 drieë vir Lillies ingesluit. Onder die 18 drieë tel ‘n vierkuns deur plaasvervanger-skrumskakel, Eldine Hein.
Abbotsdale se agtsteman, Adlo Lendoor, en regtervleuel, Dowan Mahoney, het op hul beurt elkeen drie keer agter die opponente se doellyn gaan kuier.

Wesbank spog tans met die tweede hoogste telling in die eerste ronde van die liga. Hulle het vroeg in die seisoen teen Riebeek United in ‘n wegwedstryd 85 punte opgestapel teenoor die tuisspan se 18 punte.
In die ander tweede kragmetings van die naweek het Moorreesburg die besoekende Saron met ‘n loesing van 65-52 teruggestuur huis toe en Villagers Wittewater het dieselfde (35-15) met Good Hopes gedoen.
Die statistiek van die eerste ronde toon dat uit die 11 naweke Wesbank, Abbotsdale en Mamre elkeen drie keer die grootste sege (grootste punteverskil) van die naweek behaal het met Saron en Darling elkeen een keer.
Riebeek United was vier keer aan die ontvangkant van die grootste loesing (grootste punteverskil), gevolg deur Koringberg met drie keer, Good Hopes twee keer en Saron en Porterville elkeen een keer.
Die minste punte wat die onoorwonne ligavoorloper, Wesbank, aangeteken het, was die 27 teen Never Despair. Dit was genoeg om aan hulle ‘n sege te besorg.

Darling se meeste punte was 55 teen Riebeek United en hul minste punte was die 25 teen Wesbank.
Porterville het uit hul eerste 11 wedstryde vyf keer presies 40 punte op die telbord geplaas. Hul meeste punte was die 46 teen Mamre en hul kleinste telling was 22 teen Villagers Wittewater.
Laasgenoemde het Abbotsdale in húl kragmeting tot 10 punte beperk. Dit was Lillies se laagste telling van die eerste ronde.
Die spanne neem nou ‘n ruskans en volgens die voorlopige (konsep)spelrooster vir die tweede ronde lyk die bepalings vir 20 Junie (tuisspanne eerste) so:
Darling teen Saron
Good Hopes teen Porterville
Koringberg teen Wesbank
Moorreesburg teen Mamre
Never Despair teen Villagers Wittewater
Riebeek United teen Abbotsdale

Leave a Reply

error: Content is protected !!