LatestSports

5 Langasems van Swartland AK pak Comrades

Daar is vyf lede van die Swartland Atletiekklub onder die inskrywings vir vanjaar se moordende Comrades Ultramarathon wat Sondag plaasvind.
Twee van die Swartlandse atlete, Charlie Mavhungu (40-49) en Morne Siebritz (50-59), mik vir hul eerste medaljes in dié wedloop wat vanjaar oor (‘n kort) 85,777 km van Durban na Pietermaritzburg strek.

Die klub se Hennie Klaase (60-69) het verlede jaar sy eerste Comradesmedalje verower en Jaco Neethling (40-49) kon reeds in 2024 en 2025 dié gesogte medalje om sy nek hang.
Vir die ander lid van die klub wat ingeskryf het, Hercu Hofmeyr (60-69), sal ‘n suksesvolle wedloop Sondag sy 41ste medalje beteken nadat hy sy 40ste medalje in 2024 ingepalm het. Hofmeyr het reeds in 1981 sy eerste Comrades voltooi.
Sy vinnigste tyd as ‘n jong man was 6 uur 38 min (89 km) in die 72ste Comrades in 1997 – ‘n afwedloop. Hofmeyr vinnigste opwedloop was die vorige jaar (1996) in ‘n tyd van 6 uur 48 minute (87 km).

Dit is vanjaar die 99ste Comrades nadat die eerste een in 1921 plaasgevind het.
Dit is ook die 50ste opwedloop (Durban na Pietermaritzburg). Langs die moordende roete is daar vanjaar nie minder nie as 49 verversingstasies wat beurtelings deur ongeveer 5 000 vrywillers beman sal word.
Talle deelnemers sal Sondag se marathon wil gebruik as ‘n “kaartjie” vir deelname aan die 100ste Comrades in 2027 wat spesiale eeufeesvieringe sal insluit.

Leave a Reply

error: Content is protected !!