PA behou (nie amptelik) Swartland se Wyk 11
Al moet die uitslag nog amptelik bekragtig word, dui die nuutste beskikbare syfers daarop dat die Patriotic Alliance die Swartland se Wyk 11 behou het in vandag se tussenverkiesing nadat die party se vorige raadslid in die wyk bedank het.

Indien dié syfers wel bevestig word, sal die sakeman Raymond Ricardo Mains die nuwe wyksraadslid wees wat die kiesers van Wyk 11 op die Swartland-raad sal verteenwoordig tot die algehele munisipale verkiesing op 4 November vanjaar.

Die Swartland se raad bestaan uit 23 raadslede waarvan 12 wyksraadslede is en 11 wat proporsioneel aangewys is.

Die Demokraties Alliansie het hier tien wyksraadslede asook drie raadslede wat proporsioneel aangewys is.
Die African National Congress het een wyksraadslid asook vier raadslede wat proporsioneel aangewys is.
Die Vryheidsfront Plus het twee raadslede wat proporsioneel aangewys is.
Die Patriotic Alliance het dan steeds een wyksraadslid, terwyl die Good-party en die EFF elk een raadslid het wat proporsioneel aangewys is.
