Murphy wil stokkie oorhandig
Museum nou eers gesluit
Op die trappies by die voordeur van die ou gebou – eens die dorp se NG-kerk – wag hy my in.
Langs die groot houtdeur is die plaket as bewys dat die gebou tot nasionale gedenkwaardigheid geproklameer is.
Dit is nou al vir meer as ‘n eeu nie meer ‘n NG-kerk nie, maar het sedert 1915 al as kerksaal en ‘n stoorplek gedien en ook al ander denominasies se kerkdienste, troues, kunsuitstallings, optredes en talle vergaderings en saamkuiergeleenthede gehuisves.

Die gebou is nou vir bykans drie dekades reeds ‘n museum waar stories oor die geskiedenis van die Riebeekvallei en haar mense vertel en uitgebeeld word.
Chris Murphy, voorsitter van die museumkomitee, het onlangs aangekondig dat hy die tuig wil neerlê en die stokkie wil oorgee aan ‘n nuwe vrywilliger(s) om die bestuur van die Riebeekvallei-museum (voorheen De Oude Kerk-museum) oor te neem.
Dít is egter ‘n uitdaging.
Die termyn van die beampte by die museum het ook verlede maand verstryk.
Die museum is gevolglik nou sedert die einde van Mei tydelik tot verdere kennisgewing gesluit.

Die museumkomitee het die laaste klompie jare al kleiner geraak.
Sedert die Covid-pandemie, sê Murphy, het die bestuur van die museum moeiliker geraak met al minder vrywilligers wat betrokke en bereid was/is om op die bestuur te dien.
Toe daar op 14 Mei vergader is om ‘n nuwe komitee te verkies en die leisels oor te gee, was daar slegs twee lede op die komitee oor.
Die tweede lid, Bas van Kampen, is ook nie weer beskikbaar om op ‘n nuwe komitee te dien nie.
Murphy is al vir jare ‘n erfenispraktisyn.
Hy het 30 jaar gelede na die Riebeekvallei verhuis. Al woon hy al vir 14 jaar nie meer in die Riebeekvallei nie, het hy steeds baie ure aan die museum gewy deur onder meer gereeld van Koperfontein af hierheen te reis om die museumsake te behartig.
Hy vertel hy was as ‘n jong man van slegs 16 jaar oud die jongste lettersetter (ook genoem setter) by die Cape Times in Kaapstad. Dit was die tyd voor die koms van digitale uitlegsagteware toe als in metaal gedoen is en letters letterlik gepak moes word. Dit was darem al “Linotype”-masjiene waarmee ‘n reel op ‘n sleutelbord getik en as ‘n hele lyn teks uit gesmelte lood gegiet is.
Nagskofte en streng spertye. Dinge moes akkuraat en teen ‘n spoed gebeur.

As tiener het hy ook begin foto’s neem en kort voor lank ‘n groot kombuis in ‘n donkerkamer omskep.
Later het hy vir jare in Engeland ‘n grafiese ontwerp-onderneming gehad. Toe sy grootste kliënte finansieel begin swaarkry, het Murphy en sy toekomstige vrou, Victoria, teen die einde van 1992 besluit om “tydelik” terug te keer na Suid-Afrika.
Hy het by die Foshini-groep begin werk en toe weer permanent hier in sy geboorteland aangebly.
Hulle wou uit die stad kom en na ‘n klein plekkie verhuis. Die egpaar het die vallei gereeld besoek en vriende geraak met Hilton en Lizzie Lack van die Village Taverna (later die Arts Inn, Kasteelberg Country Inn & Bistro en nou Kasteelberg Place).
Kort voor lank het hulle ‘n huis gekoop in Roosstraat en teen die einde van 1996 na Riebeek-Kasteel verhuis van waar hy aanvanklik nog stad toe gependel het.

Hy het later ‘n grafiese ontwerp-ateljee agter die kantore van eiendomsagente (waar Beans about Coffee tans is) oopgemaak.
Hulle het ook ‘n kunsgallery, artOrchard, daar gehad en was ook nou betrokke by toerisme en verwante geleenthede om die vallei te bemark en mense hierheen te lok.
Murphy vertel wyle Bev Gower van Riebeek-Wes het een dag in die vroeë 2000’s in hul gallery ingehardloop en gesê daar is pas ‘n erfenisstigting in die Swartland gestig. Murphy het ‘n vergadering bygewoon, aangesluit en oor die agelope meer as twee dekades sy erfeniskennis uitgebou en nou betrokke geraak in die bewaring van erfenis.
Hy het ook twee kursusse oor erfenisbewaring by die Universiteit Kaapstad voltooi.

“Ek moes destyds met Swartlandse eienaars van erfenisgeboue wat dit wou verander, gaan konsulteer en het só ook baie van sy praktiese ondervinding opgedoen.”
Hy onthou die dag toe hy ‘n oproep uit die Paarl gekry het oor ‘n veiling by die historiese ou Tiger Oats-gebou op Moorreesburg. Hy het hom daarheen gehaas, maar was te laat om die veiling te stop. “Die meeste van die goed soos die vensters en balke was reeds verkoop. Die ouens het die meeste van die goed net uit die vuis uit verkoop en dit is ‘n beskermde erfenisgebou.”
Hy was later voorsitter van die Swartland Erfenisstigting en ook die Weskus Museumforum. Hy het ‘n paar foto’s aangestuur van geboue in die streek wat oor die jare sy aandag getrek het.
Murphy behartig tans twee erfeniswebwerwe – https://www.weskusheritage.org en https://www.heritagechroniclesa.org
Oor die Riebeekvallei-museum sê hy, dit is nou tyd dat ander na vore tree om die museum te bestuur. Hy het sy deel gedoen.
Hulle is tans besig om mense te probeer werf om die bestuur oor te neem.

*Die hoeksteen van dié ou kerkgebou (aanvanklik ‘n hulpkerk) is op 8 Augustus 1855 gelê is. Die eerste preekstoel was ‘n geskenk uit die (nou Moeder)kerk op Malmesbury wat in die laat 1850’s herbou en met ‘n nuwe preekstoel toegerus is.
Die eiendom was in die besit van die Du Toits van Kloovenburg voor die familie dit in die laat 1980’s aan die munisipaliteit en gemeenskap van Riebeek-Kasteel geskenk het as ‘n “museum vir die nageslag”.
Dit is enkele jare later in 1991 tot ‘n nasionale gedenkwaardigheid (nou ‘n provinsiale erfenisterrein) verklaar.
