Grootuitdaag hervat; Fel stryd om 2de plek
Ná ‘n kort blaaskans, hervat die klubrugby in Swartlandafdeling van Boland Rugby se Grootuitdaagliga hierdie naweek met die tweede ronde.
Met die Koringboere van Wesbank wat die eerste ronde met ‘n gemaklike voorsprong afgesluit het (12 ligapunte voor hul naaste teenstanders), is dit veral die tweede plek waarom daar behoorlik gekompeteer sal word.

Al is dit teoreties moontlik dat Wesbank nog die kampioenskroon ontneem kan word, sal hulle moeilik geklop word as hulle in die oorblywende helfte van die seisoen hul vorm van die eerste ronde kan behou.
Die tweede posisie op die punteleer en daarmee saam ook ‘n plek in die Top 12 is nog wawyd oop.
Die twee spanne van Darling en Porterville beklee tans die tweede en derde plekke met ewe veel ligapunte, terwyl Abbotsdale en Mamre met onderskeidelik drie en vyf punte minder tans vierde en vyfde lê.
Hierdie vier spanne kan dus maklik nog as die Swartland se reserwekampioen gekroon word en na die Top 12 deurdring.
Vir Villagers Wittewater (nog 5 punte laer op nommer ses) en Saron (op nommer sewe), sal dit ‘n opdraandstryd wees, maar dit is teoreties beslis ook moontlik.

Wesbank, die verdedigende kampioen van die Swartland, hervat hul veldtog Saterdag met ‘n wegwedstryd teen Koringberg. Laasgenoemde het vanjaar teruggekeer na die liga en beklee tans die 10de plek.
Darling kom in ‘n tuiskragmeting teen die spanne van Saron te staan, terwyl Porterville na Riebeek-Wes reis om teen Good Hopes te speel. Die span van Riebeek-Wes kon nog nie vanjaar op dreef kom nie en is tans in die voorlaaste posisie op die punteleer.
Abbotsdale wat in die laaste wedstryd van die eerste ronde ‘n allemintige 116 punte teen Koringberg op die telbord geplaas het, reis Saterdag na Riebeek-Kasteel. Riebeek United is tans laaste op die puntelys nadat hulle in die eerste ronde een van hul elf wedstryde (dié teen Villagers Wittewater) naelskraap met 8-7 kon wen.
Mamre speel Saterdag weg teen Moorreesburg en Villagers Wittewater speel op Malmesbury teen die spanne van Never Despair.
