EntertainmentLatest

I’ Bricconcelli: Bach tot Sting tref Darling

As jy gedink het klassieke musiek hoort net in stywe, koue konsertsale, kan jy aangenaam verras word op Saterdagmiddag 27 Junie op Darling wanneer I’ Bricconcelli op dié dorp op die planke kom.
Gaste kan uitsien na ’n besondere musikale ervaring wanneer die internasionaal bekende barok-tjellis en komponis Hans Huyssen en Matthias Remley-Ender (’n lid van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes wat sy mediese stetoskoop in Wene verruil het vir die tjello) hul unieke duo-uitvoering na die platteland bring.

I’ Bricconcelli – In Italiaans beteken briccone “skelm” of “deugniet” – en dit is presies hoe hierdie twee die verhoog tref: met die diepste respek vir die musiek, maar met ’n heerlike, ligvoetige passie en ’n “vonkel in die oog”.
Met vier tjello’s tussen die twee van hulle, beloof die middag ’n musikale reis te wees wat strek “van Bach tot Sting.”
Die program spog met werke van meesters soos Boccherini, Franchomme, Offenbach en Solimma. En dan is daar ’n splinternuwe, eksklusiewe verwerking van Bach se ikoniese 1ste tjello-suite vir twee tjello’s, asook sy wêreldwye gunsteling, “Air on the G String”. Dit is musiek wat die mees geharde pop/rock-aanhanger se hartsnare kan roer.

Die twee tjelliste, Matthias Remley-Ender en Hans Huyssen.

Darling Music Experience se geleenthedee is juis bekend vir hierdie resep: intieme kuierplekke in plaas van groot sale. Naby in plaas van afstand. Dit is die tipe konsert waar jy die musikante se konsentrasie kan sien, die energie van die snare kan voel en waar musiek skielik van ’n abstrakte kunsformaat verander na iets rou, eg en diep menslik.
Darling, bekend vir haar besondere blommeprag en topgehalte wyne, is nou al vir twee dekades die tuiste van hierdie gereelde unieke kamermusiek-uitvoerings.
Gaste kan die geleentheid afsluit met ‘n heerlike wintersop-kuier om die winterkoue te verdryf.
Daar sal ook geleentheid wees vir ‘n glasie vonkel of plaaslik gebroude bier.

● Datum: 27 Junie
● Plek: Darling Museum
● Tyd: 15:00
● Bespreek nou: by Quicket
● Die ekstra bederf: R50 vir ’n bakkie warm wintersop. Die sop moet vooraf per WhatsApp bespreek word. Stuur bloot ’n boodskap aan Chanda by 072 418 4135.

Leave a Reply

error: Content is protected !!