Marais Erasmus se boektitel was amper ‘Poker Face’
Hy sê 10uur. Toe ek kwart voor hier by die gholfbaan kom, is hy al lankal hier. Hulle is al 7uur van Hermanus af weg. Daar was die risiko van ‘n oponthoud met ‘n optog hier in die dorp.
Die Malmesbury-gholfbaan is herontwerp en herbou en nog nege putjies bygevoeg. Spelers kan tans nie op die oorspronklike nege speel nie. Die klubhuis is ook teen miljoene netjies deur die ontwikkelaar opgegradeer. Dit alles op munisipale eiendom.
Marais (Erasmus) en sy vierbal slaan 11uur af. Hulle sal die nuwe nege gate twee keer speel.
Hy speel die laaste paar jaar meer as ‘n 100 keer per jaar. “Ons het op Hermanus so ‘n ritme van Woensdae en Saterdae.” Daar op Hermanus, waar hulle deesdae woon, is daar in sy groep rugbylegendes soos Morné du Plessis en Bossie Clarke in. Marais se voorgee is op die oomblik sewe.

Toe ek hom vra vir ‘n onderhoud, dink ek 30 jaar terug.
Hy was toe ‘n onderwyser by Laerskool Wolraad Woltemade in Bothasig en hy en Adèle het in Brackenfell gewoon.
Hy het vir Boland krieket gespeel. Was ook hulle kaptein.
Ek het sportredakteur geword by die Paarl Post enkele maande ná die opspraakwekkende wedstryd in Desember 1994 op Boland Bank Park wat afgelas is weens die kolfblad.
Marais het in daardie wedstryd nege boulbeurte ses van Nieu-Seeland se paaltjies geoes.
In sy speeltyd vir Boland en daarna by die Paarl Krieketklub het hy heelparty keer in berigte in die Paarl Post verskyn.
Hoofopskrifte soos: “Paarl Krieket koop Kuiper, Erasmus” (24/8/95).
‘n Ander berig: “Kriekettafel gedek vir Peoples vs Paarl” (15/2/96) ….. “In die Paarl-kamp is daar sy veelsydige kaptein, Marais Erasmus, asook die Boland-kaptein en lopiejagter, Adrian Kuiper.”
Young Peoples se kaptein was Salieg Nackerdien.

Marais het ‘n pos by Laerskool Hendrik Louw in die Strand aanvaar en hulle het daarheen verhuis. Hy was toe kaptein van Strand/Somerset-Wes voor hulle Malmesbury toe getrek het. Hier is hy as tweede adjunkhoof by Laerskool Swartland aangestel. Jannie Paterson was die senior adjunkhoof en Hennie Weideman die skoolhoof.
Marais het ‘n seisoen vir Malmesbury krieket gespeel en sy speelloopbaan hier afgesluit (ook as kaptein) – sy heel laaste seisoen – 1999/2000. Hy het toe ook by Boland skeidsregters aangesluit en later in 2000 sy eerste klubwedstryd as skeidsregter gestaan in ‘n kragmeting tussen Malmesbury en Hermanus.
Hy het die onderwys verruil vir voltyds krieketskeidsregter wees en in 26 jaar as witjas behoorlik geskitter in dié rol. Nou het dié driemalige Top-witjas van die Wêreld, as’t ware sy Swartlandsirkel kom voltooi en die splinternuwe boek oor hom en die wentelbaan van skeidsregter wees Donderdagaand hier kom bekend stel.
Op die kroegtoonbank by die boekbekendstelling staan twee bottels Naledi.
Naledi is ook die uitgewer van die nuwe boek: Marais Erasmus – The Rock ‘n Roll Years (Cricket in an umpire’s orbit).

Hy het op skool krieket gespeel (kaptein van DF Malan se eerstepan), toe ook ná weermag in Walvisbaai vir OKP (Onderwyskollege Paarl) en later vir Van der Stel op Stellenbosch, toe hy daar studeer het. Sy spelersdebuut vir Boland was onder kaptein Omar Henry in Desember 1988 in Windhoek teen SA Weermag.
Erasmus het op 60 sy internasionale jas opgehang en vroeër vanjaar, op 62, ook finaal sy jas in plaaslike eersterangse krieket. Dit was in die Paarl. Daar waar hy sy provinsiale krieket begin het. Nóg ‘n sirkel voltooi.
In 2019 het Suid-Afrikaners die geleentheid gekry om ‘n eksoplaneet WASP-62 b en sy moederster te benoem. Die reuse-gasplaneet WASP-62 b is vroeër met een van die teleskope by Sutherland ontdek. Dit wentel elke 4,4 dae om sy dwerg-moederster – sowat 573 ligjare weg.
Daardie moederster heet nou Naledi. – Dit beteken ster in Sesotho.
Jy kan Erasmus ook Naledi noem.
Marais sê hy het nie eintlik rituele nie. Het bv. nie ‘n spesifieke broek gedra as dit ‘n goeie toets was nie, maar hy het soggens voor ‘n wedstryd Afrikaanse musiek geluister – ‘n verskeidenheid daarvan.
Altyd op toer ook ‘n Suid-Afrikaanse vlag saamgeneem.

Die wentelbaan van ‘n krieketskeidsregter sluit, soos dit duidelik en goed in die nuwe boek vertel word, talle karakters van dié sport, knoeiery, vreemde plekke, moeilike besluite – ook foute en vergifnis – in. Daar is ook Marais se keuse van beste elftalle.
Daar is volop tegniese detail en lekkerlees-staaltjies. Een van die keer toe Marais op ‘n lughawe in Dubai mooi moes verduidelik dat krieketbalmeters, wat vir sekuriteitsbeamptes op ‘n x-straalmasjien soos handboeie gelyk het, absoluut niks met seksspeelgoed te make het nie.
Die boek is geskryf deur gesoute krieketjoernalis Telford Vice. Hy vertel hy was saam met Marais en Adèle in ‘n ry vir ‘n Mango Groove-konsert toe Marais sê hulle moet gesels oor ‘n boek. Net daar het dit begin. Dit het hom so ‘n jaar geneem om die boek te skryf. Talle onderhoude en navorsing later is dit nou op boekwinkels se rakke. Ook op Naledi se aanlynwinkel – https://naledi.co.za/product/the-rock-n-roll-years/.

Marais vertel ‘n vriend het hom en nog ‘n maat saamgenooi na ‘n dans op Wellington en daar het hy vir Adèle (Victor) wat toe daar onderwys studeer het, ontmoet. Hulle het ‘n tweelingseuns, Chris en Geo wat aan Hoërskool Swartland gematrikuleer het.
Marais is boorling van George waar sy pa, George, staatsaanklaer was. Sy ma, Geraldine, was aan en af ‘n onderwyseres. Sy pa het klubrugby gespeel vir Worcester en George en was ook een keer SWD-reserwe. “Hy was mal oor krieket maar het dit nooit gespeel nie. Hy het later ook ligatennis gespeel vir Chrismar in Bellville.” Hy het afgetree as ‘n direkteur van staatkundige ontwikkeling.
Hulle het in Bellville gaan woon waar Marais in Laerskool Vredelust en later hoofseun van DF Malan was. Dié oud-Afrikaans-, Aardrykskunde- en Geskiedenisonderwyser sê hy was op skool maar ‘n gemiddelde student. “Ek net nie veel aandag daaraan gegee nie.” Hy het ‘n bietjie gewig gestoot, maar eintlik maar op rugby en krieket gefokus.

“My pa was Maties-mal. So ons het in die winter gery waar Maties gespeel het.
“Ons almal het baie ‘ball sense‘.
“My pa het voorry gespeel. Hy was so ‘n maer voorry. Toe word my ouer broer, Merwe, ook ‘n maer voorry. Toe kom ek en ek is nou voller, maar ek sê ek gaan nie my tyd mors op voorry nie. Ek wil met die bal speel.” Hy was in st, 9 en 10 in sy skool se eerste vyftiental.
Marais het van st. 7 af ook vir die skool se eerstespan krieket gespeel (kaptein in 9 en 10) en in standerds 8, 9 en 10 vir Tygerberg se streekspan. Hy het aanvanklik gedink hy is meer ‘n kolwer, maar later jare op Stellenbosch het hy meer ‘n bouler geraak.
Marais het in die Paarl op OKP vir die kollege krieket en rugby (Boland Grootuitdaag) gespeel. Toe hy Stellenbosch toe gaan om sy graad te doen, het hy (toe al eintlik in studenteterme ‘n “ou man”) die “harde Grootuitdaagrugby vir harde koshuisrugby (Huis Marais) tussen die jongmanne” verruil.
Toe word hy later vir Maties se tweedespan gekies, maar met die 1990 intervarsity was hy losskakel vir die vierdespan. Daar was net soveel diepte op losskakel – Riaan Gouws (eerstespan), Ernst Scriba (tweedespan) en Jannie Kruger derdespan.
“Die volgende jaar toe speel ek my paar ‘games‘ vir Boland.”
Hy is een van net meer as ‘n hand vol spelers wat vir Boland op beide die krieket- en rugbyveld diens gedoen het – sewe rugbywedstryde vir die Wynboere gespeel (een op losskakel en ses op heelagter). Dit was die tyd van die Curriebeker B-afdeling.
Later, voor hy nog op Malmesbury kom skoolhou het, het hy in 1992 op Malmesbury vir Bloues gespeel. Hy het ‘n geborgde Citi Golf van Bertina Horne (toe op die bestuur) se motorhawe gehad. “Dit was die enigste keer in my lewe wat ek ‘n geborgde kar gehad het en dit vir klubrugby,” sê hy glimlaggend.
Onder sy spanmaats was André Halvorsen, Charlie Gerber, Joe Slabbert (kaptein), Chris van der Merwe. Johan van Tonder, Mike Walters, Tobie Louw, Tienie Dürr, Marcel Versveld en James Laurence. Die afrigter was Tinkie Dawson.

Een van die hoogtepunte op die rugbykalender was altyd die groot Derby teen die “aartsvyande” van Moorreesburg – hierdie keer op laasgenoemde se veld. Die veld was nat en modderig. Die manne van die twee spanne praat nou nog van daardie keer.
Derbywedstryde het groot belangstelling gaande gemaak en was dikwels baie gelykopstryde tot op die einde.
“Ek het jare daarna ‘n ou ontmoet wat toe op skool was in Moorreesburg en hy sê: ‘Marais, jy weet dat Moorreesburg jou haat as gevolg van daai skelm drie wat jy gaan druk het’.”
In die betrokke kragmeting het Bloues ‘n strafskop gekry net buite die kwartlyn teen die kantlyn.
“Joe het die bal vir my gegee en daardie tyd was die reël dat die skopper vir die skeidsregter moet sê. Toe sien ek Moorreesburg stap pale toe en toe sê ek dadelik vir die skeidsregter ek gaan nie pale toe skop nie, want netnou dui hy dit sommer net aan.
“Maar nou wag ek ‘n bietjie, want ek is mos nog nooit so vinnig nie. Daardie manne moet nog verder wegstap. Toe tik ek die bal en toe gaan ek. HD Beukes het vir Moorreesburg gespeel (voorheen saam met my vir OKP). Hy sien toe vir my en jaag my. Dit beteken toe ek moet duik in die hoek om vir hom te klop. Dit was modderig en toe is my broek vuil. My broek was gewoonlik nooit vuil nie. Ek was maar banggat.”
Marais het vir die doelskop die bal teen die kantlyn gestel en deur die pale gestuur. Bloues het daardie Derby gewen. (“15-6 of so iets, dink ek.”)
Ek pols Marais oor sy jare as onderwyser.
Hy sonder die skoolhoof van Wolraad Woltemade, Eddie Conradie (later medestigter van Curro), uit vir sy visie en ondersteuning dat hy provinsiale krieket kon bly speel. “Boland het min gespeel. Vier vierdagwedstryde per seisoen. Eddie het my ook gemotiveer en gehelp met langverlof dat ek vir ses maande in Engeland kon gaan speel.”

In 1997 is Marais aangestel as departementshoof by Hendrik louw en het toe in April 1999 by Laerskool Swartland begin.
By laasgenoemde waar hy tot einde 2007 skoolgehou het, was die lekkerste die feit dat die sport sterk was. “Hier werk jy met geniale kinders en die ouers ondersteun jou. As jy moeilikheid het met ‘n seun, dan ‘sort’ die pa hom sommer uit.
“Fantastiese omstandighede om in te werk. Supertalentvolle kinders. In ‘n stadium tussen ons mansonderwysers wat afgerig het, het almal (behalwe een dink ek) ten minste eersteliga rugby gespeel. Hennie Weideman het bv. vir De Rust in die SWD-liga gespeel. Tobie Lochner het vir Moorreesburg gespeel. Jannie Paterson het SWD gespeel. Dirk Malan het ook eersteliga rugby gespeel. So die kind wat van onder af gekom het, het iets van rugby geweet.”
Gevra na ‘n snaakse storie wat hy onthou: “Ons moes een keer die krieketkolfblad gaan rol in skooltyd vir ‘n wedstryd die middag. Party van die kinders help, maar die ander raak verveeld. Die manne maak so ‘n treintjie dan slinger hulle mekaar. Daar val ‘n klong en sy knie pop uit. Toe moes ek later die dag hoor mnr. Erasmus het met die roller oor die kind gery.
“Ja, dit is wat ek doen,” skerts Erasmus.

“As ek terugkyk – 26 jaar as skeidsregter. Ek het alles afgemerk wat jy kan afmerk. Nie dat dit in die begin eers ‘n doelwit was nie. Later as jy na ‘n wêreldbeker toe gaan, dink jy dit sal darem lekker wees om ‘n wêreldbeker-finaal te staan. Ek het ses wêreldbeker-finale gestaan – drie mans en drie vroue.”
Hy verkies toetskrieket bo die eendagwedstryde.
“Toetskrieket is vir ‘n skeidsregter die uitdagendste. Jy sal sien wie is die goeie skeidsregter. “Witbalkrieket, veral 20-20, is holderstebolder en vinnig en so aan, maar jy word nie so getoets soos in ‘n vyfdagtoets nie.
“Daar moet jy die baanblad monitor. Daar is frustrasies wat oor ‘n paar dae opbou, ‘chirps‘. Môre kom die ou met daardie ou wonde van gister. So jy moet al daardie goed bestuur. 20-20 is drie en ‘n half ure en dit is verby.
“Toetse is harde werk. Fisies hard. Sielkundig hard. Jy is moeg. Soms drie dae later weer ‘n toets. Daar het ek gesien watter ouens kan druk hanteer en watter kan nie.”
“Die moeilikste plek om skeidsregter te wees vir my was Sri Lanka. Snaaks genoeg. Daar het die bal gehop en gedraai. Nie net gedraai en laag gebly nie.”

“Ek was nooit ‘n super-reëlsfundi nie. Baie van my kollegas weet waar elke komma is. Myne was meer dat as dit krieket-sin maak, dan is dit die bedoeling van die reël.”
Toe hy uitgetree het, het Erasmus 82 toetse gestaan. In daardie stadium was hy 10de op die lys van alle tye vir aantal toetse.
“Dit was ‘n uitdaging en ‘n voorreg dat ek dit so lank kon doen op die hoë vlak. Nie baie ouens oorleef nie.”
Hy was die eerste Suid-Afrikaner in ‘n finaal – Lords – 2019 Wêreldbeker.
“As mense my vra wat is my gunsteling drie plekke. Dan sê ek Lord’s, Lord’s en Lord’s. Daar ruik jy die geskiedenis. Hulle doen dit net op ‘n ander vlak. Hulle het natuurlik baie geld, maar die manier hoe hulle jou hanteer. Ook die styfheid van die lede in die ‘Long Room‘. As jy afstap, staan hulle daar en die ‘usher’ kondig aan: ‘Gentleman, The umpires.’ Dit gee vir jou hoendervleis.”
Jy het die rustige geaardheid? “Ek het ‘n stadige hartklop wat ons almal in die hele familie het. Ek dink ek kan dalk ook goed wegsteek hoe ek voel. ‘n Bietjie meer ‘Poker Face.’ Een van die potensiële name van my boek was ‘Poker Face‘.
“Dit was ‘n groot voordeel dat ek kon kalm lyk in die omstandighede en dit spoel oor na die spelers toe. Hulle sien die ou lyk nie opgewonde nie. So hulle raak ook rustig.
“In elke fase van jou loopbaan moet jy stelselmatig die spelers se vertroue op elke vlak wen.”

As jy hom vra na die resep om so suksesvol te wees, sê Marais (en jy sal hom dit ‘n paar keer hoor sê): “Om ‘n goeie skeidsregter te wees, moet jy ‘n goeie mens wees.
“Dit moet ‘n natuurlike ding vir jou wees. Wees net jouself. Jy moet inherent ‘n goeie mens wees. Jy is soos ‘n regter. Jy moet daardie reëls en regulasies toepas. ‘No fear or favour.’
“Daar was ‘n toets in Adelaide in Australië wat tot in die vyfde dag gegaan het ná tee. Indië kort net meer as 100 en Australië kort agt paaltjies. Virat (Kohli) het ‘n 100 nie uit nie en ek het ‘n paar foute gemaak. Die Ausies herinner jou aan die foute. Daardie tipe goed bou op.
“Toe kom Nathan Lyon en hy boul vir hulle uit en Australië wen.
“Die onderhoudvoerder vra vir Lyon: ‘How is your relationship with umpire Erasmus‘, en Lyon antwoord: ‘Umpire Erasmus is ‘n great umpire but he is even ‘n better man.'”
Hoe wil jy onthou word? “As iemand wat vertrou kon word. Hy sal ‘n fout maak, maar hy sal altyd die regte ding probeer doen. Dit is wat ek hoop my nalatenskap is.”
