Swartland 2de plek in GU nog wawyd oop
Te oordeel aan hoe sake tans daar uitsien in die Swartlandstreek van Boland rugby se Grootuitdaagliga, lyk dit of dit die tweede posisie en dus óók ‘n plek in die Top 12 is, waar die groot stryd in die res van die seisoen voorlê.
Die voorloper en verdedigende kampioen, Wesbank, kan op die oog af al amper begin voorberei vir die Top 12. Die Koringboere is ná 14 van hul 22 wedstryde steeds onoorwonne en loop nou met ‘n allemintige 15 ligapunte voor. Dit is die ligapunte van drie volpunt wedstrydseges.
Wesbank het hul posisie verstewig toe hulle Saterdag op Moorreesburg teen die tuisspan weer die volle vyf punte verdien het.

Die eindtelling was 45-24 – ‘n gemaklike wentelling, maar Moorreesburg het dit nie vir die besoekers op ‘n skinkbord gegee nie en met rustyd nog met 14-10 voorgeloop. Die besoekers moes in die tweede helfte na ‘n hoër rat oorskakel om hul onoorwonne status te behou.
Wesbank is reeds in ‘n aansienlik sterker posisie as ná hul eerste 14 wedstryde in verlede jaar se kompetisie. Hulle het in daardie stadium wel voorgeloop, maar vroeër twee wedstryde verloor en 13 ligapunte minder op die punteleer gehad as tans.
In vanjaar se kompetisie is die stryd om die tweede plek op die puntetabel nog wawyd oop met Abbotsdale en Porterville wat tans ewe veel ligapunte het. Lillies is egter in die tweede posisie omdat hulle ‘n veel groter punteverskil (“punte vir” minus “punte teen”) het.
Hulle het Saterdag hul wegwedstryd teen Darling met 27-17 gewen nadat hulle met rustyd ‘n groot voorsprong van 27-7 geniet het. Die Melkboere het hul egter verhoed om in die tweede helfte punte by te voeg.
Porterville het op hul beurt in die Put met Villagers Wittewater gaan kragte meet. Die tuisspan het die wedstryd, waarin die skeidsregter heelpartykeer kaarte uit sy sak gehaal het, met 32-29 gewen nadat hul rustyd reeds met 22-7 voorgeloop het.
Die vierde posisie op die punteleer – met drie punte laer af – word tans deur Mamre beklee. Die span wat die afgelope naweek hul wegswedstryd teen Good Hopes van Riebeek-Wes met 43-38 gewen het, is beslis ook nog binne trefafstand van die tweede plek in die liga.

Dan volg Darling met nog vier punte verder. Die Melkboere sal dus in die oorblywende agt wedstryde uitstekend moet vaar en ‘n tikkie geluk moet hê as hulle hul aanspraak lewend wil hou.
In die enigste ander wedstryd van die naweek het Never Despair gasheer gespeel vir die spanne van Saron. Spairs het ‘n oorwinning van 34-31 behaal.
Riebeek United en Koringberg het ‘n loslootjie gehad.
Die spelrooster vir die komende naweek (tuisspanne eerste) is:
Abbotsdale teen Good Hopes
Koringberg teen Porterville
Mamre teen Never Despair
Riebeek United teen Moorreesburg
Saron teen Villagers Wittewater
Wesbank teen Darling
* Só het dié spanne vroeër vanjaar in die eerste ronde teen mekaar gevaar (tuisspanne eerste):
Good Hopes 5, Abbotsdale 71;
Porterville 33, Koringberg14;
Never Despair21, Mamre 23;
Moorreesburg 54, Riebeek United 15;
Villagers Wittewater34, Saron 29;
Darling 25, Wesbank 28.
