Emma Willemse delf (al) dieper in die realiteite van verplasing
Die bekroonde kunstenaar en kunsopvoeder van die Riebeekvallei Emma Willemse sit haar jarelange reis met die ontrafeling van verplasing en die werklikhede daarvan voort met ‘n nuwe uitstalling waarin sy onder die oppervlak delf en haar werk in ‘n ou reservoir onder die grond in Bloemfontein uitstal.
‘n Rukkie nadat die reservoir in 1904 gebou is, het dit in onbruik en vergete geraak totdat dit in 1994 herontdek is en hergebruik word om uitstallings aan te bied.

Willemse se konseptuele kuns handel oor konsepte van verlies en plek – verplasing, gevoel van plek en plekspesifieke onthou. As voormalige bibliotekaris is sy krities oor dominante kennisstelsels en deur haar kuns ondersoek sy die skakels tussen verskeie alternatiewe benaderings tot kennis. Sy het ‘n meestersgraad in die visuele kunste asook kwalifikasies in sielkunde en as bibliotekaris.
Sy sal twee werke in die Reservoir-ruimte uitstal. Albei handel oor die bewussyn van plek en die verhouding daarvan tot geheue en identiteit. Die eerste is ‘n kunstenaarsboekinstallasie genaamd 101 Ways to Long for a Home.
Die tweede bestaan uit vyf grootskaalse boot-tipe installasies. Die motief van die boot, wat breedvoerig verken word, vorm deel van ‘n voortgesette ondersoek na die betekenisse wat die boot genereer in die konteks van verplasing.

Die bekroonde kunstenaarsboekinstallasie is ‘n deurlopende projek, wat bestaan uit meer as ‘n honderd en een handgemaakte boeke en voorwerpe, waarin weggegooide blokkiesvloerblokkies hergebruik word as boekomslae, bladsye en beeldhoukundige elemente. Die boot-tipe installasies hang in die lug. Sy kombineer ou verwaarloosde makoros (houtkano’s) met handgemaakte papier, papierpulptekeninge en materiaal.
Willemse se kunstenaarsboeke is voorheen in uiteenlopende konfigurasies in Florence, Dakar, Parys, Londen, Johannesburg, Kaapstad, Bloemfontein en Franschhoek uitgestal. Die uitstalling by die Oliewenhuis-kunsmuseum is die eerste keer wat dit gestruktureer word as ‘n ensiklopedie: verdeel in vyf volumes, elk met sy eie voorwoord, inleiding, vyf hoofstukke en indeks. Dit is ook die mees uitgebreide weergawe tot nog toe.

Willemse sê: “Die Reservoir-uitstallingsruimte het ‘n interessante geskiedenis wat verband hou met baie van die idees in my werk – die doel en konstruksie daarvan spreek van bewaring, opgrawing en argeologie. As gevolg van sy ondergrondse ligging het dit konnotasies tot die onbewuste – daardie dinge wat onder die oppervlak lê.
“Alhoewel hierdie werke nie die enigste mediums en formate is waarin ek werk nie, is dit waaraan ek die meeste tyd spandeer in my soeke om die onderliggende dieptes van die verskynsel van verplasing te openbaar.
“In die 1990’s is ek agtereenvolgens uit verskeie huise verplaas. Gedurende hierdie tydperk het ek een van my vorige huise wat op die punt gestaan het om gesloop te word, binnegegaan. Alles wat van waarde in die gebou was, was reeds uit sy oorsprong geruk, insluitend die houtdakbalke en die blokkiesvloere. Op die ingewing van die oomblik het ek van die vloerblokke in plastieksakke versamel om as ‘n aandenking saam te neem..
“Ek het later hierdie daad van die versamel van die vloerblokke herken as die eerste stap in die dokumentasie van die ervaring van die verlies van my huise.”
“Meer as 20 jaar se hantering van idees van verlies in my kunspraktyk het my laat besef dat baie werke uit die dieptes van die onbewuste kom, voordat die bewustheid van al hul lae van betekenis bekend is. Boonop is werke soms ‘n raaiselagtige voorspelling van tye wat kom.”

Die opening van die uitstalling is Dinsdag 7 Julie om 18:00 by die Oliewenhuis Kunsmuseum. Die spreker is die bekroonde skrywer Kobus Moolman, ook ‘n inwoner van die Riebeekvallei.
Die uitstalling kan tot Sondag 30 Augustus besigtig word.
