LatestSports

Koringboere troef Melkboere met wegholsege

Die eerstespan van Wesbank het die besoekende span van Darling druipstert huis toe gestuur ná ‘n sege van 85-26 in Boland Rugby se Grootuitdaagliga vandag op die Alfastraat-sportgronde.
Die Koringboere wat nou ná 15 agtereenvolgende oorwinnings steeds onstuitbaar is in vanjaar se kompetisie, het hul 15-punt-voorsprong op die puntetabel behou nadat hulle met rustyd reeds met 31-7 voorgeloop het.

Daar is nog sewe wedstryde in die tweede ronde oor, maar vir die besoekers wat vandag slegs een bonuspunt kon verdien, lyk die kanse om nog in die tweede plek te eindig vir ‘n plek in die Top 12 nou bitter skraal.
Abbotsdale was op hul beurt vandag gasheer vir die spanne van Good Hopes van Riebeek-Wes.
Lillies het sterk begin en dit het aanvanklik gelyk of hulle straks selfs ‘n groter sege as dié in die eerste ronde (71-5) kon jaag, maar die span van agter Kasteelberg het ‘n stokkie voor daardie gedagte gesteek.
Abbotsdale het rustyd met 31-10 voorgeloop en met reëlmaat agter die besoekers se doellyn gaan kuier, maar Good Hopes het met sterk skrumwerk ‘n basis gevorm om ook ‘n paar keer die tuisspan se doelgebied te besoek.
Die eindtelling was 50-31 in Abbotsdale se guns. Hulle het só 5 ligapunte verdien om hul tweede posisie op die punteleer te behou. Al het hulle en Porterville dieselfde aantal ligapunte, plaas Lillies se groter punteverskil hulle in die tweede plek.
Porterville het vandag die span van Koringberg ontvang en die kragmeting ver met 45-3 gewen.
Op Mamre het die tuisspan teen die besoekende Never Despair kragte gemeet.
Mamre het die wedstryd met 30-19 gewen nadat hulle rustyd met 22-13 voorgeloop het.
Mamre beklee steeds die vierde plek op die punteleer.

Die verrassing van die dag was die uitslag van Riebeek United se tuiswedstryd teen Moorreesburg. United wat vroeër vanjaar nog net een wedstryd (dié teen Villagers Wittewater) kon wen, het Moorreesburg naelskraap met 24-23 geklop. Die spanne het gaan water drink met die telling op 12-9 in die tuisspan se guns. Moorreesburg het in die eerste ronde ‘n oortuigende sege van 54-15 oor Riebeek United behaal..
In die Swartland-streek se ander Grootuitdaagwedstryd van die dag het Saron op hul tuisveld ‘n sege van 44-33 oor Villagers Wittewater behaal. Die rustydtelling in dié wedstryd was 19-18 in Saron se guns. Saron het dus die bordjies verhang nadat Wittewater hulle in die eerste ronde met 34-29 geklop het.
*Met die liga wat nou ‘n wedstryd of twee weg is van die driekwartmerk, sien die spelrooster vir volgende naweek (18 Julie) só daaruit (tuisspanne eerste):
Darling teen Riebeek United
Good Hopes teen Wesbank
Koringberg teen Moorreesburg
Never Despair teen Abbotsdale
Porterville teen Saron
Villagers Wittewater teen Mamre

Leave a Reply

error: Content is protected !!