LatestSports

McGregor jag 15de Berg-titel

Oor twee dae skop die 2026 Bergrivier Kanomarathon in die Paarl af.
Oor die vier dae – Woensdag tot Saterdag – sal die roeiers weer op die kronkelende rivier deur die Swartland roei om die eindpunt in Velddrif te bereik.
Die marathon, vanjaar in sy 65ste jaar sedert daardie eerste keer in 1962 toe die pioniers dit aangedurf het, word as een van die heel moeilikste in die wêreld beskou.
Daar is verskeie gewilde punte langs die roete waar toeskouers en die roeiers se rugsteunspanne hulle kan aanmoedig en ondersteun.

Daar sal, soos elke jaar, weer ‘n klompie bekende gesigte wees. Roeiers wat die Berg al talle kere getem het.
Swartlanders kan weer vir Ansuné Basson, ‘n boorling van Malmesbury, langs die rivier aanmoedig. Sy ken die rivier reeds goed en het dit al sewe keer voltooi en een keer in 2023 die derde plek (K1) op die rostrum ingeneem.

Ansuné Basson

Die Berg het talle legendes en families wat oor jare sinoniem met dié wedvaart geword het.
Onder hulle tel die Malherbes, Van Riets, Van Deventers en Conradies.
Die meeste van hulle neem nie meer deel nie.
Jannie Malherbe was een van die pioniers wat die Berg in 1962 die eerste keer geroei het. Hy het dit die daaropvolgende drie jaar – 1963, 1964 en 1965 – elke keer gewen.
Malherbe hou tans die rekord vir die meeste Berge voltooi. Hy het verlede jaar op die ouderdom van 85 vir die 52ste keer by Velddrif uit die water geklim. Twee van sy seuns, Donnie en Louw, het die Berg onderskeidelik 21 en 16 keer voltooi.

Wyle Giel van Deventer

Giel van Deventer het in 1969 sy eerste Berg geroei. Van Deventer wat intussen oorlede is, het in 2022 die eerste roeier geword wat 51 Berge agter sy naam kon skryf. Sy seuns Chris (13 Berge) en Gert (17 Berge) het ook al hulle slag op dié rivier gewys.
Onder die Van Riets wat die marathon voltooi het, tel Willem (Snr en Jnr), Roelof, Enslin (20 keer), Louw (16 keer), Ernest (12 keer) en Desiree (2 keer).
Willem Snr was ook een van die pioniers in 1962 en het die wedvaart in 1971 gewen. Roelof het in 1965 sy eerste Berg voltooi en dit in 1968 en 1970 gewen.

‘n Klompie negatiewe uit die argiewe van 30 jaar gelede

Dan is daar ook die Conradie-gesin. Die Springbokroeier Daniël Conradie het die Berg van 1985 tot 1997 12 keer voltooi. Hy is op ‘n jong ouderdom in Desember 1998 skielik oorlede.
Sy jonger broer, Herbert, het van 2002 tot 2011 die Berg agt keer getem en het vanjaar ná 15 jaar weer ingeskryf om die moordende marathon saam met sy dogter, Joanne (wat op 26 haar debuut sal maak), aan te durf.
Herbert se suster, Lize (Kriel), wat ook jare as “second” langs die rivier opgetree het, het self die Berg in 1997 en 1998 voltooi. Haar man, Dawie, het dié marathon drie keer geroei van 1997 tot 1999 en hul seun Conrad is weer vanjaar saam met sy oom en niggie onder die inskrywings nadat hy sedert 2019 reeds vier Berge voltooi het.

Hank McGregor, verdedigende kampioen

Die koning van die Berg met ‘n ongeëwenaarde 14 Berg-titels reeds in sy sak, Hank McGregor, het ook in ‘n roeihuis grootgeword.
Sy pa, Lee, is ‘n roeilegende en het die Berg die eerste keer in 1994 voltooi.
Hank is die verdedigende kampioen en die oë sal vandeesweek weer op hom gerig wees om te sien of hy op 48 steeds die jonger garde ‘n ding of twee kan wys.
Hy het al 17 Berge op sy kerfstok en is reeds ná verlede jaar se titel op die ouderdom van 47, die oudste wenner in die marathon se geskiedenis.

Die skoot vir vanjaar se wegspring sal Woensdagoggend om 09:00 in die Paarl klap. Die roeiers word vanaf 11:05 by Grensplaas, 11:40 by Roostuin en 12:15 by Hermonbrug verwag voor die eerste dag se skof oor 62 km na verwagting van 13:15 af by Zonquasdrift sal eindig.

Die tweede dag (die kortste skof oor 46 km) neem roeiers dan na Bridgetown verby die Goudabrug, die Treinbrug en Drie Heuwels.

Verwagte tye hang af van wegspringtyd.

Vrydag se derde skof is die langste en strek oor 75km. Dit neem roeiers oor die Misverstanddam, onder deur Die Brug, en die ou N7-brug, oor die Moravia-keerwal en die laagwaterbrug by Soettdraai tot by Zoutkloof.

Die vierde en laaste skof strek Saterdag verby Bergrivierstasie, Kersefontein, Kleigat en die oordraplek by Kliphoek tot by die eindpunt by die Velddrifbrug.
*Roeiers kan nog inskryf. Inskrywings sluit vanaand om middernag.

Leave a Reply

error: Content is protected !!