LatestNews

Swartland M nóg beter; op 80% No. 1 in SA

Die jongste jaarlikse oorsigverslag van Ratings Afrika vir finansiële volhoubaarheid vir die oorsigtydperk (2024/2025) plaas vyf munisipaliteite in die Wes-Kaap in die eerste vyf posisies in die land.
Vir dieselfde tydperk het die Stad Kaapstad weer die titel as nommer een metropool in die land ingepalm met ‘n punt van 71 uit 100.

Vir dié Munisipale Finansiële Volhoubaarheidsindeks word Suid-Afrika se 120 grootste plaaslike munisipaliteite en agt metropolitaanse munisipaliteite gemeet volgens hul finansiële verslae vir die jaar wat in Junie 2025 geëindig het asook ander data.
Die beoordeling geskied volgens ses vaste kriteria vir finansiële volhoubaarheid. Die ses maatstawwe is: bedryfsprestasie; bestuur van likiditeit; bestuur van skuld; begrotingspraktyke; bekostigbaarheid en die ontwikkeling van infrastruktuur. Die verslag word reeds vir 15 jaar sedert 2011 uitgereik.
Volgens die jongste verslag is die land se top-vyf finansieel mees volhoubare munisipaliteite (in alfabetiese volgorde): Drakenstein, Hessequa, Overstrand, Saldanha Bay en Swartland.
Die top-munisipaliteite per provinsie is:
Gauteng: Midvaal
KwaZulu-Natal: Groter Kokstad
Limpopo: Groter Tzaneen
Mpumalanga: Steve Tswete
Noord-Kaap: Ga-Segonyana
Noordwes: Rustenburg
Oos-Kaap: Kouga
Vrystaat: Metsimaholo
Wes-Kaap: Swartland

Die Swartland Munisipaliteit het verlede jaar vir die 2023/2024-oorsigtydperk die louere as beste in die land gedeel met Saldanhabaai toe beide munisipaliteite algeheel 74 punte uit die 100 ontvang het.
Dié punte van elkeen, verduidelik die munisipale bestuurder van Swartland, Joggie Scholtz, aan dié courant, is toe later opwaarts aangepas na 77 omdat daar ‘n oorsig was met die berekening in terme van inwonertal van elkeen.
Swartland het hul prestasie nou verbeter tot ‘n punt van 80 om vir 2024/2025 alleen die beste in die land te wees.
Die gemiddelde punt van die munisipaliteite in die Wes-Kaap wat deur Ratings Afrika beoordeel is, is 57% terwyl die nasionale gemiddelde 33% is.
Die gemiddelde punt vir metropole is 40%.

Leave a Reply

error: Content is protected !!