Pad vir Lillies nou steil
Nadat hulle voor die naweek nog met vier ligapunte ‘n buffer gehad het in die tweede plek en dit gelyk het of hul ‘n binnebaan het, lyk sake nou aansienlik moeiliker vir Abbotsdale om nog die Top-12 te haal.
Die spanne van Porterville en Mamre lê vierkantig in hulle pad.
Al was dit te wagte dat hulle dié naweek geen genade op Porterville moes verwag nie, het Abbotsdale toe so vasgeval dat hulle nie ‘n enkele ligapunt kon verdien nie.

Die tuisspan het vroeg-vroeg in die wedstryd eerste lont geruik en agter Lillies se doellyn gaan kuier om die telbord te open – 7-0.
Abbotsdale kon ‘n strafdoel behaal voor Porterville met nog ‘n drie geantwoord het om hul voorsprong na 14-3 te rek.
‘n Onverdoelde drie en nog ‘n strafdoel het die besoekers laat nader kruip (14-11).
Hierna het beide spanne weer agter hul opponente se doellyn gaan kuier en met die aanbreek van rustyd was Porterville met ‘n enkele punt voor – 19-18.
In die tweede helfte was dit weer die tuisspan wat eerste punte aangeteken het met ‘n drie wat hul met nóg een opgevolg het om die voorsprong na 29-18 te rek.
Hierna het ‘n verdoelde drie weer vir Lillies binne bereik geplaas (29-25) voor Porterville ook met sewe punte geantwoord het en so die laaste spyker in die doodskis kon slaan vir die eindtelling van 36-25.

Nou het elke span nog vier wedstryde oor. Porterville is in die tweede plek met ‘n enkele ligapunt voor Abbotsdale.
Laasgenoemde se oorblywende paadjie lyk egter effe steiler.
Hulle pak Saterdag in ‘n wegwedstryd die onoorwonne voorlopers, hulle bure van Wesbank. Die Koringboere het gister op Wittewater hul onoorwonne status behou, maar nie voor die tuisspan hul goed skrikgemaak het nie.
Villagers Wittewater het aanvanklik ‘n voorsprong van 17-0 opgebou voor die besoekers hul rekening kon open. Die rustydtelling was 17-7. Wesbank het baie laat in die wedstryd vir die eerste keer daarin geslaag om voor te loop en uiteindelik die kragmeting met 35-24 gewen nadat hulle 21 onbeantwoorde punte kon aanteken. Die Koringboere se voorsprong op die puntetabel is nou ‘n volle 20 punte – die grootste in die hele Boland Grootuidaag. Die enigste ander onoorwonne span is steeds Hawston wat ‘n voorsprong van 10 ligapunte in die Overberg geniet.
Ná die komende Saterdag se wedstryd teen Wesbank, ontvang Abbotsdale die daaropvolgende Saterdae vir Mamre en Saron voor hulle die tweede ronde in ‘n wegwedstryd teen Koringberg afsluit.

Porterville kom op hulle beurt Saterdag tuis teen Moorreesburg te staan. Daarna volg twee wegwedstryde teen Darling en Wesbank voor hulle ook hul tweede ronde met ‘n tuiswedstryd afsluit teen Riebeek United.
Mamre, wat voor die afgelope naweek nog dieselfde aantal ligapunte as Porterville gehad en die tweede plek beklee het, het Saterdag teen Saron vasgeval (61-46) en lê nou vierde – drie punte agter Abbotsdale.
Hul oorblywende ligaverpligtinge is ‘n tuiswedstryd teen Riebeek United, twee wegwedstryde teen Abbotsdale en Koringberg voor hulle in hulle laaste ligaverpligting gasheer speel vir Wesbank.
Die ander uitslae van gister was die wegholsege van 88-0 wat Darling op eie bodem oor Koringberg behaal het; Never Despair se tuissege van 54-24 oor Riebeek United en Moorreesburg se oorwinning van 38-24 oor Good Hopes.
Die komende naweek se spelrooster (tuisspanne eerste):
Good Hopes teen Never Despair
Koringberg teen Saron
Mamre teen Riebeek United
Porterville teen Moorreesburg
Villagers Wittewater teen Darling
Wesbank teen Abbotsdale
