Enkele wyke verander – kiesers kan nog herregistreer
Kiesers het nog drie dae om te herregistreer voor die kiesersrol vir die komende munisipale verkiesing van 4 November op Vrydag 7 Augustus sluit.
In die Swartland het die afbakening van enkele wyke in en om Malmesbury verander en kiesers kan nog tot Vrydag aanlyn of by hul naaste OVK-kantoor registreer of herregistreer (hul besonderhede opdateer). Die OVK-kantoor op Malmesbury is geleë by Bokomoweg 20.

Al het die grense van sommige wyke verander, word kiesers nie van die rol verwyder nie. Hulle sal steeds kan stem, al is dit moontlik nou nie meer vir die raadslid in die wyk waar hul woning met die nuwe indeling val nie
In Malmesbury val die Mount Royal Gholflandgoed, die woongebied tussen Sarel Cilliersstraat en Langstraat aan die westekant van Voortrekkerstraat asook ‘n gedeelte tussen Voortrekker/Kerkstraat en Vredestraat nou by ander wyke.
Kiesers kan aanlyn registreer of herregistreer (hul besonderhede opdateer) by die webwerf
Kiesers kan ook tydens kantoorure by die OVK-kantoor by Bokomoweg 20 registreer. Dit is wys om eers ‘n afspraak te maak by tel: 022 482 4179.

Kiesers kan ook die volgende gebruik om hul registrasiestatus na te gaan:
Webwerf: www.elections.org.za of
SMS ID-nommer na 32810 of
Per tolvry-oproep vanaf ‘n landlyn na die oproepsentrum – 0800 11 8000 of
Per WhatsApp – 060 088 0000.
Daar is ook ‘n mobiele toepassing (app): IEC South Africa
