Swartland M vereer Van Essen vir ‘uitsonderlike bydrae’
Malmesbury se rioolaanleg sal voortaan as die Van Essen Rioolsuiweringswerke bekend staan.
Die munisipaliteit het op ‘n raadsvergadering ‘n mosie daarvoor onder staande applous aanvaar om oudburgemeester raadsheer Tijmen van Essen op dié manier te vereer “ter erkenning van sy uitsonderlike leierskap, versiendheid en bydrae tot die langtermynontwikkeling en groei van die Swartland Munisipaliteit.”
Van Essen se opvolger, raadsheer Harold Cleophas, het die mosie ingedien en die onderburgemeester, raadsdame Anet de Beer, het dit gesekondeer.
In sy motivering wys Cleophas daarop dat die uitbreiding van die Malmesbury-rioolsuiweringswerke meer as ‘n dekade gelede uitsonderlik was.

“Van Essen het van 2009 tot 2021 as burgemeester gedien en is wyd erken vir sy toewyding aan langtermynbeplanning, volhoubare groei en die proaktiewe ontwikkeling van infrastruktuurkapasiteit voor die aanvraag nog ontstaan het.”
Die suiweringswerke wat in 2013 voltooi is, het etlike toekennings aan die munisipaliteit besorg.
Van Essen is tans nog ‘n wyksraadslid en lid van die uitvoerende burgemeesterskomitee. Dit is sy laaste termyn en hy het hom nie weer vir die munisipale verkiesing op 4 November verkiesbaar gestel nie.

Oor die verering sê hy (tong in die kies) aan dié courant: “Man, ek het gesê behalwe my familie het ek mos net twee liefdes in my lewe. Dit is ‘n rioolwerke en ‘n stortingsterrein. As ons dit nie het nie, dan stop alles.”

Cleophas het die mosie gemotiveer met “een van die belangrikste strategiese besluite wat met Van Essen se ampstermyn verband hou, was die opgradering en uitbreiding van die Malmesbury-rioolsuiweringswerke. Die Munisipaliteit het destyds finansiële beperkings en mededingende diensleweringsprioriteite in die gesig gestaar. Die besluit om met die projek voort te gaan, het vereis dat die Munisipaliteit eksterne leningsfinansiering moes bekom en het ‘n aansienlike verbintenis vir ‘n munisipaliteit van Swartland se grootte verteenwoordig.

“Met ‘n projekwaarde van ongeveer R115 miljoen, was die opgradering van die Malmesbury-rioolsuiweringswerke in daardie stadium die grootste kapitaalinfrastruktuurprojek wat ooit deur Swartland Munisipaliteit of enige van sy voorgangerowerhede onderneem is.
“Burgemeester Van Essen was die hoofvoorstander vir die strategiese besluit om in grootmaat-afvalwaterinfrastruktuur te belê lank voordat sulke kapasiteit dringend benodig was. Sy visie was gebaseer op die begrip dat ekonomiese groei, residensiële uitbreiding en beleggingsaantrekking uiteindelik beperk sou word indien voldoende grootmaatdienste nie beskikbaar was nie.

“Die wysheid van daardie besluit is sedertdien bo alle twyfel bewys. Die opgegradeerde fasiliteit het aansienlike residensiële, kommersiële en industriële ontwikkeling moontlik gemaak en die afvalwaterbehandelingskapasiteit verskaf wat nodig is om groot ontwikkelings soos De Zwartland Werf, Mount Royal, De Hoop, die streekhospitaalgebied, winkelsentrumontwikkelings en talle ander beleggings te ondersteun wat die plaaslike ekonomie steeds versterk en werksgeleenthede skep.

“Die lening wat gebruik is om die projek te finansier, is sedertdien ten volle terugbetaal, terwyl die infrastruktuurbate steeds huidige en toekomstige geslagte bevoordeel. Die fasiliteit verteenwoordig dus nie net ‘n groot ingenieursprestasie nie, maar ook ‘n blywende simbool van visionêre munisipale leierskap.”
Die raad het ‘n beleid dat strate normaalweg nie vernoem moet word na persone wat nog leef nie, maar het in hierdie geval vir Cleophas gelyk gegee dat “die benoeming van ‘n strategiese munisipale infrastruktuurbate fundamenteel verskil van die benoeming van ‘n straat.

“Die voorgestelde benoeming is nie bedoel as ‘n algemene eerbewys wat aan ‘n lewende individu toegeken word nie, maar eerder as erkenning van ‘n spesifieke en uitsonderlike bydrae tot die beplanning, finansiering en ontwikkeling van die betrokke fasiliteit.
“Om die fasiliteit na voormalige burgemeester Van Essen te vernoem, sal dus gepaste erkenning bied aan ‘n leier wie se visie en toewyding die ontwikkelingstrajek van Swartland Munisipaliteit wesenlik beïnvloed het en wie se nalatenskap steeds huidige en toekomstige geslagte bevoordeel.”

Met die nuwe moderne aanleg kon daar sedert 2013 op dieselfde perseel wat met die ou stelsel drie megaliter rou riool kon hanteer, toe met die membraanstelsel 10 megaliter rou water verwerk word.
Van Essen het destyds kort voor die voltooiing van die nuwe aanleg in 2013 verduidelik dat een van hul uitdagings was om die ou stelsel (opgerig in 1958) te laat saamwerk met die nuwe stelsel, wat stelselmatig in gebruik gestel is. Dele van die ou stelsel is toe geleidelik afgebreek. Die twee stelsels het gebots, dus moes dié sinchronisasie van die ou en nuwe stelsels deurentyd goed beheer word.
“Geen enkele druppel water loop weg rivier toe nie, ons benut alles. Die herwinde water word gelei na sportgronde in en rondom die dorp en plase noord van Malmesbury,” het hy destyds bygevoeg.
