Swartland se 2de plek nog wawyd oop
Wesbank weer streekkampioen
Ná hul gelykop-uitslag teen Wesbank in ‘n opwindende derbystryd, is die deur nog oop vir Abbotsdale om die Top-12 te haal.
Maar dieselfde geld vir Porterville wat hul posisie in die tweede plek van die Swartland-afdeling van Boland Rugby se Grootuitdaagliga verstewig het met ‘n sege van 29-27 oor Moorreesburg.
Daar is nog drie ligawedstryde vir elkeen oor.

Porterville, wat tans drie ligapunte voor Abbotsdale is, moet nog op Malmesbury teen Wesbank, die verdedigende streekkampioen wat nou ook weer vanjaar die kampioen is, kragte meet. Hulle het in die eerste ronde met 44-40 tuis verloor teen die Koringboere. Porterville moet ook nog die komende naweek vir Darling in ‘n wegwedstryd pak en daarna tuis teen Riebeek United uitdraf.
Abbotsdale moet op hulle beurt Saterdag die ander aanspraakmaker op die tweede plek, Mamre, aandurf. Dié twee spanne het in die eerste ronde met 22-22 elk gelykop gespeel. Die ander twee oorblywende hekkies in Abbotsdale se pad is ‘n tuiswedstryd teen Saron (Lillies wen in die eerste ronde met 42-19) en ‘n wegwedstryd teen Koringberg.
Mamre wat tans vierde lê op die puntetabel, het twee wegwedstryde (teen Abbotsdale en Koringberg) en ‘n tuiswedstryd teen Wesbank. Laasgenoemde het hul in die eerste ronde met 32-28 geklop.
Die volgende span op die punteleer is Darling. Die Melkboere het hul wegwedstryd in die Put teen Villagers Wittewater met 27-15 gewen en is nou twee punte agter Mamre in die vyfde plek. Dit is ses punte agter Porterville en drie agter Abbotsdale.
In gister se wipplank-derby op die Alfastraat-sportterein het die besoekende Lillies, wat geweet het hulle het ‘n paar ligapunte broodnodig om in die wedloop te bly, tot die einde alles in die stryd gewerp.
Abbotsdale het eerste punte aangeteken (3-0) waarop die tuisspan met ‘n verdoelde drie geantwoord het. Lillies het nog drie punte aangeteken en ook ‘n verdoelde drie behaal om met 13-7 voor te loop voor die skeidsregter ‘n strafdrie aan die Koringboere toegeken het om met rustyd met 14-13 voor te loop.
Wesbank het eerste sukses behaal in die tweede helfte en die telling na 21-13 laat rek voor nog ‘n suksesvolle strafdoel die besoekers weer binne bereik geplaas het (21-16).

Lillies het weer die voortou geneem met ‘n verdoelde drie en dit opgevolg met hul derde drie (teen die kantlyn af) om met 28-21 voor te loop.
Wesbank wat ook nooit bes gee nie, het toe ná die 15 onbeantwoorde punte teen hulle, sake gelyk gemaak met ‘n drie (28-28).
Die wedstryd het einde se kant toe begin staan voor die tuisspan 10 minute voor die eindfluitjie weer agter Abbotsdale se doellyn gaan kuier het om met 35-28 voor te loop.
Lillies het ‘n vierde drie nodig gehad vir ‘n bonuspunt en net toe dit lyk of dit neusie verby is vir hulle, in die doodsnikke daardie bonuspunt verdien en ‘n gelykop-uitslag (35-35) afgedwing om met drie ligapunte huiswaarts te keer.
Nog uitslae van die naweek:
Good Hopes verloor teen Never Despairs (19-8)
Koringberg verloor teen Saron 36-29
Mamre klop Riebeek United 64-26.
Die komende naweek se bepalings (tuisspanne eerste):
Abbotsdale teen Mamre
Darling teen Porterville
Moorreesburg teen Villagers Wittewater
Never Despair teen Koringberg
Riebeek United teen Good Hopes
Saron teen Wesbank
