LatestSchools

HSS/HHS-interskolestatistiek: Ja, dit is net statistiek

In ‘n oorlog, sê hulle: Die eerste wat sneuwel is die waarheid.
In ‘n interskole, na alle waarskynlikheid: Die eerste ding waarvan jy moet vergeet, is statistiek.
Interskole is ‘n gelykmaker. Dit is dikwels voordelig om as die “underdog” op die veld uit te stap. Die druk dan effe minder en die verwagtinge ook.

Die rugbystatistiek van die Rockie/Blackie-interskole hang effe swaarder na Hugenote se kant toe.
Hulle het in 1975 vir die eerste keer teen Hoërskool Swartland gespeel en daardie uitslag was 7-6 in Hugenote se guns. (Onthou dit was in die tyd toe ‘n drie nog vier punte getel het.)
Interskolekoors loop hoog en die hoogtepunt is Saterdag wanneer die laaste sportwedstryde in ide 50ste interskole op Wellington plaasvind.
dié courant het verlede jaar met een van die matrikulante van daardie 1975-jaar, Marie Dumas, gesels.
Sien berig
Uit al die eersterugbyspanne se kragmetings het Hugenote 29 keer as wenners van die veld gestap teenoor Swartland se 18 keer.

Koop kaartjies vir Saterdag aanlyn by hierdie skakel: Hugenote HS vs HS Swartland Interskole

Die spanne het twee keer – in 2004 en 2009 met 0-0 en 7-7 onderskeidelik – gelykop gespeel.
In 2020 en 2021 kon die interskole weens Covid-19 nie plaasvind nie.
Die Rockies spog met die grootste sege toe hulle in 1989 met 36-9 gewen het.
Naas 1975, was daar nog twee naelskraapse enkelpuntseges vir Hugenote: in 2008 (15-14) en in 2025 (26-25) en een vir Swartland in 2010 (18-17).
Toeskouers is in 2016 (Swartland wen 33-24), 1999 (Hugenote wen 38-17), 2018 (Hugenote wen 36-14) en 2025 (Hugenote wen 26-25) op die meeste punte getrakteer.
Naas die gelykopuitslag in 2004, was die laagste tellings dié in 1984 (Hugenote wen 3-0) en 1991 (Swartland wen 4-0).
Op die netbalbaan het Swartland agt uit die laaste tien keer as oorwinnaars van die baan gestap. Hugenote het verlede jaar met ‘n enkele punt gewen (28-27).

Op die hokkieveld hang die statistiekskaal weer swaarder na Hugenote se kant toe.
Hul eerstemeisiespanne het 5 van die laaste 10 kragmetings gewen. Swartland kon twee keer wen en daar was drie gelykopuitslae, waaronder dié van 2025 (1-1).
By die seunshokkie was Hugenote ses uit die laaste tien keer (waaronder 2025, met 3-1) aan die wenkant. Swartland het drie keer geseëvier en die telling was een keer gelykop.
Maar al hierdie statistiek is net dit. Statistiek.
Wanneer die fluitjies Saterdag in die onderskeie kragmetings blaas vir die 50ste interskole (wat vanjaar op Wellington plaasvind), begin als eintlik weer by nul.

Leave a Reply

error: Content is protected !!