Agri/BusinessLatestNews

Darling Cellars, Pulpit Rock oes twee grotes op Swartland Jongwynskou

Op die Swartlandse been van vanjaar Nasionale Jongwynskou het Darling Cellars die gesogte Absa Grootkampioentrofee ingepalm en Pulpit Rock het met die Vinochem-trofee vir die 5 beste inskrywings weggestap.
Darling Cellars se Pinotage/Cinsaut (die grootkampioen) het ook aan die kelder die Nexus-trofee vir die kampioen droë rooi versnit besorg.
Die ander trofeë wat vir die volgende jaar in Darling se trofeekas sal staan, is die Vinventions-trofee vir die kampioen Sauvignon Blanc, die Malmesbury Toyota-trofee vir die kampioen droë wit versnit (Sauvignon Blanc) en die Porex SA-trofee vir die kampioen Merlot.

Pulpit Rock se top-inskrywings het die volgende trofeë gewen: Kobus Basson-trofee – kampioen Pinotage; Kotzé/Steyn-trofee – kampioen Shiraz; Wine Machinery-trofee – kampioen Cabernet Sauvignon; Séan Nieuwoudt-trofee – kampioen Cinsaut en Santam Landbou-trofee – kampioen ander rooi kultivar (Petit Verdot).
Die ander kelders wat by die geleentheid by die Royal Hotel met trofeë weggestap het, is:
Zwartwater – CJP Chemicals-trofee vir die kampioen Chenin Blanc;
Org de Rac – Enartis-trofee vir die kampioen ander wit kultivar (gehoute Chardonnay) en
AA Badenhorst Family- SAIL-trofee vir die kampioen versterkte wyn.
Die spreker by die geleentheid was Hennie Hanekom, een van die stigterslede van die Swartland Wyn- en Olyfroete. Hy het vertel van die kameraderie van die beginjare van die roete en hoe daar destyds in die bedryf gedink is net streke soos Franschhoek, Constantia en Stellenbosch kan goeie wyn maak.
“Vandag staan ons streek se wyne geensins terug vir die wyne uit daardie streke nie.”
Hanekom het ook gepraat oor die beginjare toe KWV ‘n belangrike rol gespeel het om die wyn van die hand te sit. Hy het die kelders en wynmakers aangemoedig om voort te bou op die goeie werk ten spyte van die op en die afjare wat die bedryf ondervind.

Leave a Reply

error: Content is protected !!