LatestSportsUncategorized

Twee volpuntseges sal Abbotsdale deursien

Met slegs twee wedstryde vir elkeen oor, is daar tegnies nog vier Swartlandspanne in die wedloop om die tweede plek en só ‘n plek in Boland Rugby se Top-12.
Abbotsdale en Porterville lê nou tweede en derde met ewe veel ligapunte en Darling en Mamre is tans onderskeidelik vierde (twee punte agter) en vyfde (5 punte agter) maar steeds binne trefafstand.
Enige van hierdie spanne kan teoreties nog by Wesbank aansluit as die Swartland se aanspraakmakers op die Top12-titel.

Abbotsdale het Saterdag die span van Mamre geklop (26-17), maar kon nie vier drieë vir ‘n ekstra bonuspunt aanteken nie. Die sege het aan hulle vier punte besorg.
As Lillies in hul oorblywende twee wedstryde teen Saron en Koringberg elke keer 5 ligapunte inpalm, sal hulle tweede in die streek eindig en dus weer tot die Top-12 deurdring. Al het Lillies tot dusver vyf minder bonuspunte as Porterville verdien, het hulle een wedstryd meer gewen en een meer gelykop gespeel. Die twee spanne het tanse ewe veel ligapunte, maar Abbotsdale se punteverskil is tans 206 meer as dié van Porterville.
Indien Liliies nie die 10 punte in hul oorblywende kragmetings kry nie, laat dit die deur vir ander oop.
Porterville is die sterkste ander aanspraakmaker, maar hulle sal dan die onoorwonne kampioen, Wesbank, Saterdag op Malmesbury moet klop en dit is ‘n groot hekkie om te oorkom. Porterville se ander ligabepaling is aanstaande naweek teen Riebeek United.

Vir Darling en Mamre om nog die Top-12 te haal, is die kanse skraal. Beide moet nie net albei hul oorblywende wedstryde wen nie, maar beide Abbotsdale en Porterville moet ook die oorblywende twee naweke elke keer groot winde sluk.
Darling behoort hul kragmetings teen Good Hopes (tuis) en Never Despair te wen, maar Mamre het naas Koringberg ook nog die oonoorwonne Wesbank in hul pad.
Op Riebeek-Kasteel was dit die naweek derby tussen Riebeek United en Good Hopes. Beide spanne sukkel tot dusver vanjaar en voor die naweek was Riebeek United heel laaste op die punteleer met die risiko om moontlik uit die Grootuitdaag te val. Good Hopes lê twee plekke hoër in die 10de plek. Die hele kwessie van moontlike relegasie is nog nie opgeklaar nie.
In ‘n tipiese derby is die statistiek amper onbelangrik en die speelveld weer gelyk. Riebeek United het Saterdag die geleentheid gebruik om as die Riebeekvallei Derbykampioen gekroon te word en só ook die relegasiespook ‘n klein opstopper gegee. Hulle het Good Hopes met 31-22 geklop en een plek op die punteleer geklim met Koringberg tans laaste.

Die uitslae van die afgelope Saterdag:
Abbotsdale 26-17 Mamre
Darling 36-28 Porterville
Moorreesburg 29-35 Villlagers Wittewater
Riebeeck United 31-22 Good Hopes
Never Despair 54-24 Koringberg
Saron 23-26 Wesbank
Die wedstrydprogram vir die komende naweek (tuisspanne eerste):
Abbotsdale teen Saron
Darling teen Good Hopes
Koringberg teen Mamre
Moorreesburg teen Never Despair
Villagers Wittewater teen Riebeek United
Wesbank teen Porterville

Leave a Reply

error: Content is protected !!