Agri/BusinessEntertainmentLatest

Swartlandskou: 4 dae van top-uitstallings en vermaak

Moorreesburg maak weer gereed om van Woensdag 2 tot Saterdag 5 September skou te hou.
Besoekers van heinde en verre kan uitsien na vier dae propvol topgehalte uitstallings en kampioenskappe – van vee tot huisvlyt, masjienerie, motors en vermaak, plattelandse gasvryheid en kos. ‘n Kombinasie wat die Swartlandskou jaar ná jaar een van die grootste en gewildste landbouskoue in die land maak.

Naas die indrukwekkende diere en die kampioenskappe van agt rasse in die vleisbeesafdeling, kan besoekers weer uitsien na die perdeprogram in die arena met SA Saalperd-kampioenskappe asook die nasionale SA Vlaamperd-kampioenskappe. Een van die hoogtepunte op die program is soos gebruiklik die SA Vlaam waspanne van agt wat dit Saterdag om die nasionale titel sal uitspook. Daar is ook vanjaar miniatuurperde – ‘n gunsteling onder besoekers van all ouderdomme – op die skou.
Met die uitdagings met bek-en-klouseer is daar nie vanjaar skape en bokke in die kleinvee-afdeling nie, maar besoekers kan uitsien na die skaapkarkasopsaagdemonstrasie, ‘n skaapkopete en kleinvee-inligtingsessies oor die waardeketting van die bedryf.
Skougangers kan uitsien na nog ‘n nuwe toevoeging – die Swartlandskou Boerboelkampioenskappe in samewerking met die Wes-Kaap Boerboelklub. Daar sal ook geleentheid wees vir eienaars van opregte diere wat ‘n professionele keuring van hul diere wil laat doen.

Die pluimvee-afdeling is ook immergewild met die spogvoëls wat om die kampioenskapkrone meeding.
Die Agri-Expo Wes-Kaap Jeugskou word weer gehou, met deelname wat vanjaar skape, bokke, perde en melkbeeste uitsluit. Die groot aantal jong deelnemers sal in 10 verskillende dissiplines meeding en hul kennis, vaardighede en passie ten toon stel.
Onder die klasse waarin hulle hul slag sal wys, is vleisbeeste, pluimvee, sierduiwe, wedvlugduiwe, kulinêre kuns, suiwelbereiding, fotografie (kamera), fotografie (selfoon), konyne en die jong afslaerskompetisie.
Aan die vermaakkant kan skougangers uitsien na ‘n vol program in samewerking met Afrikaans op die Platteland. Dit sluit van die gewildste Afrikaanse kunstenaars soos Juan Boucher, Ruan Theron, Johan van der Merwe, Ivan van der Merwe, Brandon Miles, Hendré Baard, Karlien van Jaarsveld en Snotkop asook DJ Wico in.
Kaartjies vir die vroueoggend met gaskuntenaars Francois Boyes, Elandré en Donnalee Roberts is reeds uitverkoop.
*Die kroning van die Swartlandskou-skoukoningin vir 2026 sal tydens die skoudans op Vrydag 28 Augustus 2026 plaasvind.
Vir meer inligting en die volledige program, besoek www.swartlandskou.co.za of https://www.facebook.com/SwartlandskouMoorreesburg/ of https://www.instagram.com/swartlandskou
Kry vandag nog jou kaartjies by www.tixsa.co.za

Leave a Reply

error: Content is protected !!