‘n Tikkie Italië by Swartlandskou se beesafdeling
Aanvanklik was die Ch-klank in die woord China in Afrikaans vertaal na ‘n Sj-klank vir Sjina.
So ‘n klompie jare gelede – twee dekades of wat – tref die chai-golf ons. Dit was weliswaar in baie gemeenskappe glad nie nuut nie, maar die kommersiële gebruik het skielik vlamgevat.
‘n Dekade of minder later is dit toe tyd vir die gewilde chiasade. In beide gevalle begin die woord vir ons met ‘n tsj-klank.
Dan is daar natuurlik ook woorde soos die Chery-motors en die Ingels vir kersies – cherries.
Die een klink so: Sjerrie (amper soos daardie winterdrankie) en die ander is tsjerrie (amper soos…, nou ja). Feit is. Daardie tweede “r” gee klaarblyklik ‘n “t” by wat jy nie op papier sien nie.

Nou kom ons by Chianina. As mens dit as Tsjianina of Sjianina wil uitspreek, sit jy die pot mis.
In hierdie geval spreek jy dit uit as kia-niee-na.
Dit is daardie majestueuse wit Italiaanse beesras (die grootste in die wêreld), oorspronklik uit die Val di Chiana-vallei. Jy kan dié diere van 2 tot 5 September vanjaar op Moorreesburg by die 92ste Swartlandskou in aksie sien.
Maar daar is nog ‘n tikkie Italië en wel óók ‘n nuwe toevoeging tot die beesafdeling. Italiaanse Mediterreense waterbuffels is twee dekades gelede die eerste keer na Suid-Afrika gebring en besoekers aan die Swartlandskou kan vanjaar vir die eerste keer dié indrukwekkende (klaarblyklik veel sagmoediger as ons Afrika-buffels) kromhoringdiere op Moorreesburg beleef waar hulle ten toon gestel sal word.
Die Swartlandskou se beesafdeling is die grootste vleisbeesskou in die Wes- en Suid-Kaap het vanjaar nie minder nie as 8 beesraskampioenskappe.
Daar neem jaarliks ongeveer 400 diere deel wat dan uiteindelik ook meeding om die gesogte titels as opperste interraskampioene.
