As interskolevreugde en -trane in vergetelheid raak
Johan Viljoen
Lank ná die naweek se opwinding ná baie voorbereiding en ure se sweet vergete sal wees.
Lank ná die hoendervleisoomblikke van die kameraderie tussen spanmaats, maar veral van die sportmangees tussen opponente ook in die vergetelheid verdwyn het.

Lank na die emosionele oomblikke – trane van vreugde en van pyn.
Lank ná rougejuigde kele en stembande weer gesond geword het.
Sal tellings bly staan.

Papier en statistiek wys nie emosie nie.
Daar maak dit nie saak of dit naelskraap was nie.
Dit wys nie ‘n verloorspan het eers voorgeloop nie.
Dis net wen en verloor en gelykop. Dis al.
Dit wys ook nie die karakter wat jong spelers – aan die wen of verloorkant – gewys het nie.
Dit wys nie die geweldige druk waaronder hul gespeel het en hulself op die spel geplaas het nie.
Dit wys nie die groot teleurstelling vir een span en die absoluut oorweldigende vreugde wat die ander in ekstase ervaar nie.
Dit is maar die harde realiteit van sport.

Op Wellington is daar heelparty legendes gebore.
Een was Boy Louw (1906).
Tot letterlik in die doodsnikke van die laaste wedstryd Saterdag op Wellington in die 50ste interskole tussen Swartland en Hugenote was die telling 28 elk.
Daar was bitter min te kies tussen die twee spanne en die spelers het deur en deur hulle kant gebring. Hulle het kliphard gespeel, maar ook sportmanskap aan die dag gelê.

Geleenthede waar die kaptein van een span seker maak die besering van ‘n opponent is nie te ernstig nie of waar die ander span se vleuel weer sy beseerde direkte opponent gaan bystaan, sal ‘n mens onthou.
Die spanne het elk vier drieë gedruk en die skoppers van beide spanne het elke drie verdoel.
Eers was Swartland 7-0 voor.
Toe is dit Hugenote se beurt. 7-7. En weer Hugenote: 14-7.
Hierna was dit Swartland wat twee keer gaan druk het. 21-14, maar die tuisspan het dit weer gelyk gemaak. 21-21.
Toe neem Swartland weer die voortou met 28-21, maar weer het Hugenote dit gelyk gemaak: 28-28.
Vir bykans 5 minute het dit gelyk of dit slegs die derde gelykopuitslag in 50 jaar tussen dié twee skole se eersterugbyspanne sou wees.
‘n Strafskop in die laaste minuut het egter vir Swartland se stelskopper, De Wet van Aswegen, met sy akkurate skopskoen in die laaste oomblikke van die wedstryd onder geweldige druk die sege vir die Rockies laat verseël.
Toe die vlae omhoog skiet vir 31-28 was dit die einde van die wedstryd.

‘n Naelskraapse oorwinning inderdaad, maar soos dit is, is dit daardie einste Oom Boy Louw van Wellington se woorde wat weer waar word.
“Oh so. Looks at the scoreboard.”
Daar was nog drie hoofwedstryde.
Die oggend het in mis begin en die eerstemeisiehokkiespanne moes amper voel-voel speel (nee, darem nie regtig nie). Toe die eindfluitjie blaas was dit 1-1.
Hierna was dit die seuns se beurt en Hugenote kon met 1-0 as oorwinnaars afstap.
Op die netbalbaan het Swartland vroeg reeds die voortou geneem en uiteindelik met 32-27 gewen.
