Voortgesette dienslewering van ‘n hoë standaard – Cleophas
Die Swartland Munispaliteit se nuwe stadsraad vir die sesde termyn is gister in die stadsaal op Malmesbury ingehuldig.
Daar is 22 raadslede ingehuldig. Die 23ste verkose raadslid, Raymond Mains (PA wyksraadslid vir wyk 11), het verskoning gemaak omdat hy ongesteld is.

Die nuwe raad bestaan uit 14 DA-lede, 4 PA-lede, 3 ANC-lede en 2 VF+-lede.
Hulle is
DA:
Harold Cleophas (proporsioneel) en Burgemeester
Anet de Beer (wyk 8) en Onderburgemeester
Michael Rangasamy (wyk 5) en Speaker
AK Warnick (wyk 6)
Allan Williams (wyk 7)
André Koopman (wyk 12)
Cormac Fortuin (proporsioneel)
Cornelle O’kennedy (wyk 10)
Desiree Bess (proporsioneel)
Desmond Pypers (wyk 2)
Juliet Stone-Du Plessis (proporsioneel)
Nicolene Smit (wyk 3)
Patricia Solomons (wyk 4)
Pierre-Jeanne Albertyn (wyk 1)
PA:
Declan Louw (proporsioneel)
Natalie Jacobs (proporsioneel)
Raymond Mains (wyk 11)
Nkuleko Wilson Poni (proporsioneel)
ANC:
Bulelani Penxa (proporsioneel)
Catherine Pieters (proporsioneel)
Ntobeka Zatu (wyk 9)
VF+:
Amber Booysen (proporsioneel)
Jaye Lewis-Potas (proporsioneel)

Met die opening van die vergadering het pastoor Johnny Philander uit Nehemia gelees en gesê “vandag is ons by die Swartland se hek. Hoe gaan dit regtig met ons mense? Het ons nog deernis in ons harte vir ons mense? Ten spyte van al die toekennings wat Swartland al ontvang het, is ons hekke aan die brand. Ons is in die moeilikheid. My pleidooi is dat elke raadslid en elkeen teenwoordig sal sê: ‘Ek sal lei deur voorbeeld.’ Raadslede stel die morele voorbeeld.”
Met die verkiesing van die drie top-posisies het Rangasamy die stryd om speaker teen Zatu gewen terwyl Cleophas teen Penxa gewen het en De Beer teen Pieters.
Raadsheer Cleophas het ook sy burgemeesterskomitee aangewys.
Hulle is: AK Warnick (belas met beskermingsdienste), raadsdame Desiree Bess (belas met gemeenskapsontwikkeling), raadsdame Nicolene Smit (belas met die kantoor van die munisipale bestuurder, administrasie en finansies) en Pierre-Jeanne Albertyn (belas met siviele en elektriese dienste).

In sy burgemeesterstoespraak het Cleophas gesê hy aanvaar die taak vir sy tweede en laaste termyn met ‘n “diepgaande pligsbesef.” Hy het gesê inwoners kan uitsien na “voortgesette dienslewering van ‘n hoë standaard.”
Cleopas het sy voorganger, raadsheer Tijmen van Essen, wat nou ná 26 jaar uit die raad getree het, bedank vir sy enorme bydrae oor die jare.
Hy het ook die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, geloof “vir die manier waarop hy hierdie (Swartland) skip die afgelope 20 jaar bestuur het.” Scholtz het reeds kennis gegee dat hy teen die einde van Februarie 2027 sal aftree.
Op die vergadering is die Swartland se vier afgevaardigde raadslede na die Weskus Distriksmunisipaliteit ook aangewys. Daar is drie van die DA: Cornelle O’Kennedy, Desmond Pypers en Patricia Solomons.
In die afwesigheid van die PA vierde verkose raadslid, was daar ewe veel stemme vir die ANC en die PA. Die lot moes gewerp word oor watter van die twee partye se kandidaat die vierde afgevaardigde na die Weskus sal wees. Die ANC het die lot gewen en hul Bulelani Penxa sal ook op die Weskus se raad dien.
