RPO verwelkom die herstel van uitvoermarkte na China
Rooivleis is ‘n belangrike landbouproduk uit die Swartland en Weskus-streek.
Die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het die aankondiging van China dat die verbod op die invoer van gesplete hoef-diere en hul produkte van Suid-Afrika opgehef is met die uitsondering van Limpopo, Ehlanzeni in Mpumalanga en Umkhanyakude in KwaZulu-Natal, verwelkom.
Volgens die aankondiging is die besluit geneem op grond van ‘n risiko-assessering van Suid-Afrika se huidige bek-en-klouseer situasie.
China was een van Suid-Afrika se voorkeurbestemmings vir die uitvoer van beesvleis en -huide voor ‘n verbod in Januarie 2019 op invoere van Suid-Afrika geplaas is ná die uitbreking van bek-en-klouseer in die Vhembe-distrik, Limpopo Provinsie.
Die RPO het sy dank en waardering teenoor die Minister van Landbou en Grondhervorming, die Direkteur-generaal en al die personeel wat betrokke was, uitgespreek vir hul harde werk in dié verband en die vertroue wat geskep is met die manier waarop hulle die situasie hanteer het. Hulle het ook die Chinese afvaardiging na Suid-Afrika ontvang.
Die werk van die Nasionale Dieregesondheidsforum word ook hoog op prys gestel. Volgens dr Pieter Vervoort, Voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum is dit ‘n uitstekende voorbeeld van samewerking tussen die regering en die rooivleisbedryf met ‘n gemeenskaplike doelwit om by te dra tot die groei van die ekonomie.
Volgens mnr Gerhard Schutte, Hoofuitvoerende Beampte van die RPO het die Chinese aankondiging die feit opnuut onderstreep dat die veebedrywe in die toekoms die beginsel van kompartemente sal moet vestig en dat ‘n naspeurbaarheidstelsel van kardinale belang is.
Die aankondiging baan nou die weg om op ‘n bilateral wyse uitvoerpermitte te finaliseer waarop afgeteken sal word.
Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf wag tans vir ‘n aankondiging van die internasionale organisasie vir dieregesondheid, die OIE, om moontlik die bek-en- klouseer vrye sone status weer aan Suid Afrika toe te staan. Hierdie aankondiging deur China kan ‘n bydra lewer om ons aansoek aan die OIE, te versterk. – (mediaverklaring)